Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand verswak dalk dié week tot R18/$

Hou jou hoed vas, want ’n stormagtige rit lê voor wanneer markte Maandag ná Suid-Afrika se afgradering tot volslae rommelstatus oopmaak.

R18 per dollar is Suid-Afrika se voorland.

Bianca Botes, tesourievennoot by Peregrine Treasury Solution, verwag dat die rand vir die eerste keer in sy bestaan tot meer as R18 per dollar sal verswak.

Die huidige swakste vlak van die rand is die R17,92 wat kortstondig op 9 Januarie 2016 bereik is – net maande nadat oudpres. Jacob Zuma oornag vir Nhlanhla Nene as minister van finansies afgedank het op die hoogtepunt van die staatskapingskandaal wat die Gupta-familie betrek het.

Die afgelope week het die rand baie na aan dié laagtepunt gekom. Dit het volgens Bloomberg by R17,90 gedraai.

Moody’s Investors Service het Vrydagnag die laaste van die wêreld se Groot Drie kredietgradeerders geword wat Suid-Afrika tot rommelstatus afgegradeer het. Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) en Fitch Ratings het dit reeds in April 2017 gedoen.

Die afgradering deur al drie beteken Suid-Afrika val teen einde April uit die FTSE-indeks van staatseffekte, wat ’n uitvloei van kontant uit Suid-Afrika sal meebring soos batebestuurders effekte verkoop. Pensioenfondse wat net in sekuriteite op beleggingsgraad mag belê, gaan ook hul belange verkoop.

Die tesourie sê 37% van staatseffekte word tans deur buitelanders besit. Dit verteenwoordig R800 miljard. Hoewel nie almal van hulle gaan verkoop nie, het ekonome reeds ’n breë verwagting dat tussen R35 miljard en R200 miljard uit Suid-Afrika onttrek gaan word.

Sanisha Packirisamy, ekonoom van Momentum Investments, verwag egter dat die uitvloei aansienlik kleiner sal wees, gegewe die feit dat soveel geld reeds die afgelope ruk aan ontluikende markte soos Suid-Afrika onttrek is.

Sy wys daarop dat R51 miljard se staatseffekte reeds vanjaar deur buitelanders verkoop is en in totaal vanaf 2018 tot nou R140 miljard s’n, toe die mark begin het om ’n Moody’s-afgradering in te prys. Dis teenoor die R129 miljard wat sedert 2012 ingevloei het toe Suid-Afrika op die indeks van wêreldeffekte ingesluit is.

Die uitwerking van die uitvloei gaan bes moontlik nie eensklaps wees nie. Die herbalansering van die indeks, wat gewoonlik einde Maart plaasvind, is weens die koronavirus-krisis tot einde April uitgestel.

Die tesourie vrees dat die afgradering die “heersende stres in finansiële markte” weens die Covid-19-pandemie sal vererger.

“Hoewel sommige markdeelnemers redeneer dat die impak van ’n soewereine afgradering reeds ingeprys is, is dit moeilik om met sekerheid te sê in watter mate,” het Tito Mboweni, minister van finansies, Vrydagaand in ’n verklaring gesê.

“Om daarom te sê ons is nie bekommerd en bewe in ons stewels oor wat oor die volgende paar weke en maande kan gebeur nie, sou ’n fout wees.”

Johann Els, hoofekonoom van Old Mutual, sê dis regtig moeilik om te bepaal wat die markreaksie gaan wees in die lig van die koronavirus-krisis. “Voor die huidige markwisselvalligheid, wat deur die Covid-19-pandemie aangedryf is, het ek geglo die afgradering is grootliks deur finansiële markte ingeprys, aangesien dit verwag is sedert S&P en Fitch Suid-Afrika in 2017 tot onder beleggingsgraad afgegradeer het.”

Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Rand  |  Koronavirus  |  Staatskuld  |  Markte  |  Rommelstatus  |  Kredietgradeerders  |  Kredietgradering  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.