Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand hou aan gly ná VSA-aanval

Die rand is opnuut kwaai onder druk - dié  keer weens die spanning tussen die VSA en Iran wat tot wedersydse aanvalle in Irak gelei het.

Die geldeenheid het Vrydagoggend vroeg begin verswak ná nuus oor die VSA se aanval in Irak wat die lewe van ’n Iranse generaal geëis het.

LEES OOK: Top-bevelvoerder van Iran dood in Amerikaanse lugaanval

Die rand, wat Oujaarsdag vir die eerste keer in maande tot onder R14 per dollar versterk het, het Vrydag teen skuins voor 13:00 teruggesak tot R14,25, ’n verswakking van 1,9% teenoor die oggend se sterkste vlak van R14,08.

Spanning in Irak laat die rand verswak. Foto: Elvira Wood

Die verwagting is dat die hoogspanning in die Midde-Ooste beleggers se aptyt vir risiko sal knou, wat die rand verder kan laat gly.

Goudprys

Die goudprys het tot die hoogste vlak in vier maande opgeskiet soos beleggers hulle na sogenaamde veilige hawens wend.

Die prys het Vrydagmiddag met tot 1,4% tot $1 550,433 per fynons – hoër as op 5 September 2019 en dus die hoogste in ses jaar – opgeskiet.

Dit kom nadat goud in 2019 met 19% gestyg het, die hoogste styging sedert 2010.

Benewens die geopolitieke krisis wat hom afspeel, is Januarie boonop histories goud se beste maand, volgens Bloomberg-data. Dit hou deels verband met troukoors in Indië in Desember en Januarie – goud is ’n gewilde geskenk en bruide word van kop tot tone met goue juweliersware getooi. Dit simboliseer welvaart en die teenwoordigheid van die Hindoe-gode, veral die godin Lakshmi, volgens My Gold Guide.

Die gemiddelde styging in die goudprys oor die afgelope 20 jaar in dié maand is volgens Bloomberg 2,7%, wat beteken die goudprys sal na verwagting binnekort tot hoër as die sesjaarhoogtepunt styg wat in September behaal is.

As die goudprys die afgelope vyf jaar se gemiddelde Januarie-styging van 5,2% kan haal, sal dit teen Februarie $1 600 kos, volgens Bloomberg.

Olieprys

Intussen het oliepryse die hoogte ingeskiet weens vrese dat die aanvalle in Irak produksie kan ontwrig.

Die prys van Brent-ruolie het vroegoggend met tot 4,4% tot $69,16 per vat opgeskiet. Dit is vlakke wat laas gesien is toe hommeltuig-aanvalle in Saoedi-Arabië gedoen is.

Die aanvalle op onder meer die Abqaiq-raffinadery, eiendom van die staatsoliemaatskappy Saudi Aramco, het Saoedi-Arabië se olieproduksie gehalveer en wêreldproduksie met 5% verminder. Die Hoethi-rebellebeweging, wat deur Iran gesteun word en uit Jemen bedrywig is, het verantwoordelikheid aanvaar vir dié aanval.

Jason Bordoff, ’n voormalige amptenaar in die administrasie van oudpres. Barack Obama en ’n kenner van die oliebedryf, het aan Bloomberg gesê die VSA se aanval is ’n “seismiese gebeurtenis in die streek”.

“Iran se reaksie sal swaar en dodelik wees. En dit kan vir seker tot aanvalle op energie-infrastruktuur uitbrei.”

Die prys van West Texas Intermediate (WTI), die olie wat in die VSA algemeen gebruik word, het met tot 4,4% tot $63,84 per vat opgeskiet, wat dit die duurste sedert Mei 2019 maak.

Die styging in die prys het gepaardgegaan met rekordverkope soos handelaars uit vrees hul voorraad opbou. Die totale volume van Brent en WTI was sowat 17 keer die 30-dae-gemiddelde, volgens Bloomberg.

Iran en Irak vervaardig saam meer as 6,7 miljoen vate olie per dag – meer as ’n vyfde van die produksie van die Organisasie van Petroleumuitvoerlande.

Albei lande is van die Hormoes-seestraat afhanklik om hul olie en gas uit te voer. Dié nou straatjie is altyd ’n potensiële teiken wanneer spanning in die Midde-Ooste opvlam.

Duurder olie voorspel niks goeds vir Suid-Afrikaanse motoriste nie. In dié vroeë stadium is daar nog ’n oorverhaling (potensiële daling) op petrol danksy die onlangse sterk rand, maar daar is reeds ’n oorverhaling op diesel. Dis vir Februarie se brandstofpryse.

Bronne: Bloomberg, Iress

Meer oor:  Irak  |  Vsa  |  Iran  |  Goud  |  Goudprys  |  Markte  |  Brent-Ruolie  |  Olieprys  |  Rand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.