
Die rand het Dinsdag onmiddellik teenoor ander geldeenhede begin verswak nadat die nuutste ekonomiese groeisyfers bekend gemaak is.Foto: Elvira Wood
Die rand het bykans onmiddellik teenoor die Amerikaanse dollar teruggesak nadat die nuutste groeisyfer vir die Suid-Afrikaanse ekonomie bekend gemaak is.
Waar hy die oggend teen R14,54 teenoor die dollar begin verhandel het, het hy kort ná Statistieke Suid-Afrika (SSA) se bekendmaking van die nuutste groeisyfer tot R14,67 teenoor die dollar teruggesak.
Luidens die SSA het die ekonomie gedurende die derde kwartaal van die jaar met 0,6% ingekrimp.
Dit is teenoor die hersiene groeisyfer van 3,2% in die tweede kwartaal. Die aanvanklike groeisyfer vir dié kwartaal was 3,1%.
In die eerste kwartaal van die jaar het die ekonomie met 3,1% ingekrimp.
Andre Botha van TreasuryOne het vroegoggend in ’n nota geskryf dat hy verbaas was hoe sterk die rand teenoor die dollar verhandel het.
Hy het egter toe al gewaarsku dat die nuutste groeisyfer ’n invloed op die geldeenheid kan hê.
Gesien dat ekonome volgens hom groei van 0,1% op ’n kwartaalgrondslag verwag het, is die verswakking van die rand nadat die nuus oor die inkrimping bekend gemaak is, waarskynlik nie onverwags nie.
Die rand het ook teenoor ander geldeenhede teruggesak.
Waar hy die dag op R18,18 teenoor die Britse pond begin het, het hy deur die R19-vlak gebreek en teen R19,05 verhandel.
In die geval van die euro het hy teen R16,11 begin verhandel, maar tot R16,26 teruggesak.