Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand verswak tot R15,23 in aanloop tot begroting

Die rand het Dinsdag verder verswak terwyl hernude paniek oor die verspreiding van die koronavirus onder beleggers posvat.

Nema Ramkhelawan-Bhana, hoof van RMB Global Markets Research, het in ’n nuusbrief gesê medici begin dit nou oorweeg om die uitbreking as ’n “pandemie” te beskryf met die raming dat tussen 40% en 70% van die wêreldbevolking vanjaar met die virus besmet kan word as dit nie in bedwang gebring kan word nie.

Die nuwe koronavirus maak markte onstuimig - en die rand ly daaronder. Foto: Elvira Wood

Dit was die toename in gevalle in ander lande en sterftes daar oor die naweek wat die markte Maandag die skrik op die lyf gejaag het.

Die JSE het sy skerpste val op een dag getoon sedert einde 2008.

Aandelebeurse wat aanvanklik Dinsdag positief was, het teen middagtyd begin omkeer te midde van die nuus van nog gevalle op die Kanarie-eilande, en dat die virus na Toskane in Italië versprei het.

AFP het op Twitter berig “honderde toeriste is vasgekeer in ’n hotel op Tenerife” op die Kanarie-eilande nadat iemand daar die virus opgedoen het.

Ter plaatse help dit ook nie dat beleggers asem ophou vir die nasionale begrotingsrede wat Woensdag deur Tito Mboweni in die parlement gelewer word nie.

Die rand was Dinsdag net na die etensuur op R15,23 – ’n vlak waarop hy laas vroeg in Oktober was.

’n Week gelede Maandag was die rand nog R15 teenoor die dollar.

Lukman Otunuga, senior navorsingsontleder van FXTM, het in ’n verklaring gesê die vraag waarmee baie beleggers worstel is of Mboweni Moody’s sal kan oortuig dat hy staatskuld sal kan stabiliseer.

“Wat ook al die uitkoms van die begroting, dit gaan ’n blywende uitwerking op die rand en die ekonomiese vooruitsig hê.”

Meer oor:  Ekonomie  |  Rand  |  Koronavirus  |  Markte  |  Dollar  |  Begroting  |  Begroting2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.