Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand weer bo R15 ná Moody’s mark ontsenu
Die rand is onder druk.

Die rand boer nou weer rondom R15 ná die kredietgraderingsagentskap Moody’s se aankondiging oor Suid-Afrika se ekonomiese groei.

Die rand het Dinsdagoggend in ’n stadium tot R15,07 teenoor die dollar verswak.

Moody’s het Maandag kort voor 15:00 ’n verklaring uitgereik waarin hy sê dat hy sy vooruitsig vir Suid-Afrika se groei vir 2020 tot onder 1% (0,7%) verlaag het.

Nema Ramkhelawan-Bhana, hoof van RMB Global Markets Research, sê dit is nie verrassend nie gegewe die syfers oor die ekonomie van die afgelope week nie, “maar die tydsberekening is onrusbarend”.

Dit is omdat sy aankondiging so kort voor volgende week se begrotingsrede op 26 Februarie uitgereik is.

Moody’s se besluit oor die gradering van die land se staatskuld kom kort ná die begrotingsrede.

“Die markte, wat lank reeds ’n afgradering ingeprys het, wag angstig op die minister van finansies se plan om R150 miljard se staatsbesteding op mediumtermyn te sny. Indien dít geglo kan word, behoort dit Suid-Afrika grasie te gee, ten minste op kort termyn.”

RMB verwag buitelanders se deelname aan Dinsdag se veiling van staatseffekte sal ’n aanduiding gee van die sentiment onder buitelandse beleggers. Dit is omdat buitelandse beleggers meer as 40% van die staatseffekte hou wat opgeveil gaan word (die R2030 en R2032).

“Met weinig inligting wat die aandag van die mark aflei, sal deelnemers óf voortgaan om opportunisties voordeel te trek uit die reële opbrengs op Suid-Afrikaanse staatseffekte, óf hulle sal dit verkoop omdat hulle hoop die begroting en Moody’s gaan hulle positief verras.”

Sy sê die valutamark is meer wispelturig en die reaksie op Moody’s se besluit is moontlik oordrewe.

Dit hou ook verband met risikovermyding wat weer in opkomende markte sigbaar is weens die voortgesette impak van die koronavirus.

“Dit het die rand op R15 teenoor die dollar, met min rede om te versterk.”

Deon Kohlmeyer, ’n ontleder van RMB, sê buitelandse beleggers het Maandag ’n netto R1 miljard se staatseffekte verkoop. “Dit was nie verrassend nie omdat dat Moody’s Suid-Afrika se groeivooruitsig vir 2020 verlaag het van 1% tot 0,7%, wat weer beklemtoon hoe naby die land aan die afgrond van ’n afgradering is.”

Bianca Botes, ’n vennoot van Peregrine Treasury Solutions, sê die rand het Maandag onder druk gekom ná Moody’s se aankondiging. “Hierdie keer kom dit net voor die langverwagte begrotingsrede.”

Die rand was op 10 Februarie laas bo R15.

Dit het Maandagmiddag ná Moody’s se verklaring van rondom R14,92 tot R15,02 verswak.

Meer oor:  Moody's Investor Service  |  Ekonomie  |  Rand  |  Wisselkoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.