Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Realiteit keer terug vir rand

Die rand het sy optimisme oor Tito Mboweni se begroting Woensdag net vir ’n wyle gehou. Die geldeenheid het oornag van R15,09 omgekeer tot R15,30.

Bianca Botes, vennoot van Peregrine Treasury Solutions, sê die rand het die sente waarmee hy versterk het opgegee namate realiteit begin posvat het. Internasionale sentiment het oornag sy tol begin eis.

“Met die begroting uit die pad, is die belangrike tema die Covid-19-koronavirus en die impak wat dit op die internasionale ekonomie gaan hê as meer lande ’n ontwrigting in hul samelewing en ekonomie verwag.”

Dit gaan ook nie help dat Fitch Ratings, die eerste graderingsagentskap om op die begroting te reageer, in sy reaksie noem dat die ernstige agteruitgang in die staat se finansies duidelik is en hoe moeilik dit gaan wees om die regering se staatskuld op lang termyn te stabiliseer nie.

Fitch glo die ingestelde maatstawwe maak swaar steun op die hoop dat staatsamptenare se salarisse meer matig verhoog gaan word, wat dalk nie gaan realiseer nie.

rand
'n Grafiek van Iress wat toon hoe die rand versterk het (afwaarts op die grafiek) maar oornag na vyfuur gistermiddag weer begin verswak het.

Van die vroegoggend kommentaar wat ingekom het, sluit Peter Attard Montalto van Intellidex in, wat sê: “Dit is buitengewoon moeilik om ’n oordeel oor die begroting te vel.”

Montalto sê die “verrassend sterk stelling oor die voorneme om die staatsektor se salarisse te besnoei” gaan ’n enorme politieke reaksie tot gevolg hê. Hy dink ook dit is “onwaarskynlik dat die R160 miljard se besnoeiing aan staatsamptenare se salarisse suksesvol” gaan plaasvind.

Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel, sê die onmiddellike reaksie van die rand en effektemarkte toon die begroting het die regte kassies gemerk. Hy wys egter daarop dat die regering se rekord van implementering swak is.

“So, hoewel Mboweni die regte dinge sê, sal die regering nou die harde werk moet doen om sy planne te lewer en uit te voer.”

Ackerman glo as daar nie teen die mediumtermynbegroting in Oktober genoeg vordering gemaak is nie, kan Suid-Afrika weer deur ’n afgradering van Moody’s in die gesig gestaar word.

Baie van die reaksie Woensdag was verrassing oor die begroting omdat geen belastingverhogings gekom het nie. 

Die begroting het ook verbruikersaandele soos banke en kleinhandelaars s’n Woensdagaand skerp laat styg.

Die aanpassing aan belastingskale gaan ’n inspuiting van R14 miljard aan die ekonomie gee wat persoonlike inkomstebelastingverligting betref, volgens Investec-batebestuur.

Meer oor:  Fitch  |  Intellidex  |  Citadel  |  Peter Attard Montalto  |  Tito Mboweni  |  Rand  |  Dollar  |  Begroting2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.