Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Regering het ekonomiese plan vir Vaal-gebied
Fikile Majola, adjunkminister van handel en nywerheid, spreek entrepreneurs toe in ’n gemeenskapsaal in Evaton die naweek.Foto: DTI

Nog ’n nuwe spesiale ekonomiese sone (SEZ) is op pad. Hierdie keer word dit beoog in die Vaalriviergebied naby Vanderbijlpark en Vereeniging.

Die regering vorder om die Vaal SEZ te verklaar, het Fikile Majola, adjunkminister van handel en nywerheid, die naweek in Evaton aan entrepreneurs gesê.

Die SEZ’s is gebiede waar die regering belastingaansporings bied aan ondernemings wat hulle daar vestig. Die ondernemings geniet laer belastingtariewe as hulle aan sekere kriteria voldoen, asook aansporings as hulle meer jong mense in diens neem. Die prosesse om sekere regulatoriese goedkeurings te kry word ook versnel.

Die nuwe SEZ val in die gebied van die Emfuleni-munisipaliteit in die suide van Gauteng. Dis ook hier waar die Gautengse premier, David Makhura, vier jaar gelede ’n reuseprojek aangekondig het om die sogenaamde Vaal River City te bou. Dit is ’n bouprojek van meer as R11 miljard om 5 000 luukse huise, asook 400 000 m² se kantoorruimte en 60 000 m² se winkelruimte en 20 hektaar se parke te vestig.

Gift Moerane, burgemeester van Emfuleni, het die naweek gesê plaaslike entrepreneurs moet sorg hulle kry die nodige vaardighede om voordeel te trek uit die geleenthede wat sal kom met die bou van die megastad.

Majola het die plaaslike owerhede gevra om ’n nywerheidspark te identifiseer in die gebied wat opknapping benodig. Die regering het ’n program van R40 miljard wat hy oor die volgende vyf jaar wil bestee om swart nyweraars te ondersteun en nywerheidsparke te laat herleef.

Dit vorm deel van ’n poging om die Vaalriviergebied ekonomies te probeer herstel nadat verskeie ondernemings en fabrieke die afgelope jare gesluit het weens onder meer ’n insinking in die staalbedryf. ArcelorMittal Suid-Afrika, wie se staalfabriek in Vanderbijlpark is, beoog boonop verdere afleggings te midde van groeiende mededinging van goedkoop staalinvoer uit China.

Emfuleni is egter self ’n munisipaliteit met probleme. Dit is een van die munisipaliteite wie se finansiële oudit nie deur die ouditeur-generaal se kantoor afgehandel kon word nie want weens diensleweringsprotes, politieke onrus en intimidasie van die OG-kantoor se werknemers is dit vertraag. ’n Junior rekenmeester van die OG-kantoor is in Emfuleni in ’n skietvoorval aangeval terwyl die OG se span met die oudit besig was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.