Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Regering se ‘rassistiese’ toerismefonds gestaak

Die “rassistiese” Toerisme-ekwiteitsfonds (TEF) mag nie uitbetalings doen totdat die howe besluit oor die wettigheid van sy vermeende “diskriminasie” teen wit mense nie.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, op Vrydag 16 April in die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Solidariteit

So het waarnemende regter John Holland-Müter van die hooggeregshof in Pretoria Dinsdag beslis.

Solidariteit en AfriForum het op Vrydag 16 April ’n dringende hofsaak gebring om vir ’n interdik aansoek te doen wat die TEF tydelik sou verbied om uitbetalings te doen.

Die twee organisasies het hulle op ’n dringende grondslag tot die hof gewend nadat die minister van toerisme aangekondig het dat die departement se fonds vir die herstel van die toerismesektor slegs toeganklik is vir mense wat vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) kwalifiseer.

Die ekwiteitsfonds is deel van pres. Cyril Ramaphosa se ekonomiese heropbou-en-herstelplan (ERRP) wat in Oktober 2020 aangekondig is.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, het gesê die fonds is slegs vir ondernemings wat in minstens 51% swart besit is, en sal slegs volgens dié maatstaf lenings en toelaes uitbetaal om sodoende die ganse toerismebedryf te “transformeer”.

“Solidariteit verwelkom die feit dat die departement van toerisme se rassefonds gestuit is,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Dit is goed dat die regering ’n rasbloedneus gekry het.”

Hierdie uitspraak is ’n groot oorwinning teen die ANC-regering se institusionele rassisme teen minderhede.
Ernst van Zyl

Die uitspraak sal betalings tydelik stuit, maar regstappe om die wettigheid van die fonds self te bepaal moet nog kom.

“Die regering verkeer onder ’n wanindruk dat ras alles troef en bo die wet verhewe is. Om ras as kriterium te gebruik om ’n sektor te hervorm wat weens ’n pandemie op sy knieë gedwing is, is moreel onregverdigbaar. Die pandemie diskrimineer teen niemand op grond van ras nie, maar tog word hierdie ramp deur die regering uitgebuit en word slegs SEB-sakeondernemings van fondse voorsien ten koste van gevestigde ondernemings van wit eienaars wat genoop word om hul deure te sluit,” sê Hermann.

AfriForum sê op sy beurt dat die oorwinning ’n groot hou teen die regering se “institusionele rassisme” is.

“Hierdie uitspraak is ’n groot oorwinning teen die ANC-regering se institusionele rassisme teen minderhede. Die rassistiese toerismefonds bewys hoe ernstig die regering se rasse-ideologie-infeksie is, en die enigste immuunstelsel wat die regering se immorele rassediskriminasie kan beveg, is vreeslose burgerregte-waghonde soos AfriForum en Solidariteit,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Die volgende stap is vir Solidariteit en AfriForum om in deel twee van hul regstryd teen die wettigheid van die TEF te argumenteer.

Hierdie deel van die regstryd sal eersdaags aangehoor word noudat die TEF verbied is om geld uit te betaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.