Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Regering ‘volg eie kop’, ignoreer raad oor drank

Die regering word daarvan beskuldig dat hy advies geïgnoreer het oor hoe die huidige drankverbod aangepas kon word.

Volgens Salba bring elke drankverbod tot dusver gesamentlik 200 200 werkgeleenthede in die gedrang en plaas die land se formele en informele ekonomie onder erge druk. Foto: Pixabay

Die Vereniging van Drankhandelsnaameienaars (Salba) sê die besluit dat drank steeds nie oor naweke verkoop mag word nie, is in stryd met die ministeriële advieskomitee oor Covid-19 se aanbevelings wat verlede week aan dr. Joe Paahla, minister van gesondheid, voorgelê is.

Volgens Salba het die advieskomitee verlede week voorgestel dat drankverkope vir private gebruik weer na die normale ure moet terugkeer en ook ingevolge die regulasies van die Drankwet geskied.

Die inhoud van die aanbeveling is Maandag openbaar gemaak.

Volgens die advies is dit ook moeilik regverdigbaar om drankverkope vir private gebruik met net een dag te verleng, en daarom is die aanbeveling gemaak dat die drankverkope na normale ure terugkeer.

“Ten spyte van die duidelike aanbeveling deur die advieskomitee, het die regering Sondagaand aangekondig dat ’n verbod op drankverkope vir private gebruik op Saterdae en Sondae steeds geld,” sê Sibani Mngadi, voorsitter van Salba.

Drankwinkels mag wel Vrydae ook oop wees.

“Die uitwerking van die verskeie kere wanneer ’n drankverbod in die afgelope 18 maande ingestel is, het nou in ’n nasionale maatskaplik-ekonomiese ramp ontaard,” sê Kurt Moore, uitvoerende hoof van Salba.

Volgens Salba het die drankbedryf ongeveer R36,3 miljard se inkomste verloor.

Só lyk die memorandum waarin die ministeriële advieskomitee verlede week aanbeveel het dat die drankverkope na normale ure terugkeer.

“Die land het ook ongeveer R51,9 miljard in bruto binnelandse produk verloor en inkomste uit belasting vanaf die waardeketting, aksyns uitgesluit, van R29,3 miljard is ook verlore,” sê Moore.

Salba sê versoeke aan die regering om sy besluitneming oor drankverkope te steun met wetenskaplike bewyse val steeds op dowe ore.

“Ons vra bewyse om die regering se beleid hieroor te kan verstaan. Maar ons kry geen verduideliking van die regering se kant af nie,” sê Mngadi.

“Dié optrede is besig om die publiek se vertroue in die redes vir hierdie regulasies weg te kalwe,” sê Mngadi.

Hy sê mense gaan begin twyfel of regulasies soos die drankverbod ingestel word vir die ware redes waarom Covid-regulasies in die eerste plek geld, naamlik om die verspreiding van die koronavirus te bekamp en die uitwerking daarvan op gemeenskappe te beperk.

Vroeër vanjaar is soortgelyke aantygings gemaak.

LEES OOK: Verbod op drankverkope: ‘Raad val op dowe ore’

Die advieskomitee het ook nie die derde algehele drankverbod, wat tussen 28 Desember en 2 Februarie van krag was, voorgestel nie.

Die ministeriële advieskomitee het destyds aanbeveel dat drankverkope vir tuisverbruik van Maandae tot Donderdae toegelaat word, maar ’n algehele verbod op drankverkope is ingestel.

Meer oor:  Salba  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Covid-19  |  Drankverkope  |  Drank  |  Staat Van Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.