Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Regstel-aksie: ‘Ramp’ as minister teikens stel

Dit gaan ’n ramp wees as die minister van arbeid toegelaat word om teikens te stel vir regstellende aksie in spesifieke subsektore van die ekonomie, meen Michael Bagraim, arbeidsregkenner en DA-lid van die parlement se portefeuljekomitee oor arbeid.

Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid. Foto: Argief

Die hele artikel in die wysigingswetsontwerp op diensbillikheid wat die minister die mag gee om sektorale teikens voor te skryf, moet geskrap word, het sy mede-DA-lid in die komitee, dr. Michael Cardo, ook Donderdag gesê.

Die komitee werk reël vir reël deur die wysigingswetsontwerp.

Art. 15A van die wetsontwerp bepaal dat die minister van arbeid ná oorlegpleging kan bepaal presies hoeveel gepaste gekwalifiseerde mense uit toegewysde groepe in spesifieke subsektore van die ekonomie verteenwoordig moet wees.

Cardo meen dit is foutief. Hy meen dit is nie die taak van die minister om hom te bemoei met hoeveel mense uit watter rassegroepe in spesifieke ekonomiese sektore werk nie.

Heloïse Denner, VF Plus-lid van die komitee, het hom hierin gesteun.

ANC-lede in die komitee het die artikel verdedig en beklemtoon daar sal konsultasie wees voordat die minister teikens vir sektore vasstel.

Volgens hulle kan die private sektor nie aan homself oorgelaat word om te besluit hoe hy regstellende aksie toepas nie. Dit is juis omdat die private sektor sedert die oorspronklike wetgewing nie veel gevorder het met regstellende aksie nie.

Die sektorale teikens is onderworpe aan streeks- en geografiese demografieë, het ANC-lede aangevoer.

Bagraim het verskil van ANC-lede wat aanvoer daar is by die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) reeds konsensus hieroor bereik.

Nedlac het nie konsensus gehad nie en daar was wel ’n minderheidsiening wat nie saamgestem het nie, volgens Bagraim. Nedlac behoort dalk eerder die instelling te wees wat teikens stel vir subsektore en nie die minister nie, het Bagraim aangevoer, want as die minister teikens moet stel, sal dit ’n ramp wees.

Cardo wou weet of die parlement dalk nie meer betrek moet word om te help om teikens te stel nie.

Makliker vir kleinsake

Op vrae oor die skrap van die noodsaak van klein ondernemings om regstellende-aksieplanne in te dien, het Thembinkosi Mkalipi, hoofdirekteur vir arbeidsverhoudinge van die departement van arbeid, aan die komitee verduidelik die betrokke klousule is bedoel om dit makliker te maak vir ondernemings wat nie hoef te voldoen aan die wetgewing nie – dus klein ondernemings – om wel voldoeningsertifikate te kry om met die staat te kan sake doen.

Volgens Mkalipi gaan die proses baie eenvoudig wees. ’n Klein onderneming wat nie amptelik hoef te voldoen aan die wetgewing nie, hoef net twee vrae te beantwoord om ’n voldoeningsertifikaat te kry. Hy moet sê of hy voldoen aan die nasionale minimum loon, en hy moet sê of daar enige bevindings teen hom was weens onbillike werkplekdiskriminasie by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie of die arbeidshof.

As hy op die eerste vraag ja antwoord en op die tweede vraag nee, sal hy outomaties ’n voldoeningsertifikaat kry, sonder dat hy enige ander dokumentasie hoef in te doen, het Mkalipi verduidelik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.