Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Regstel-aksie: Nuwe wet is ‘apartheid in trurat’

As die voorgestelde wetswysiging oor regstellende aksie na die letter uitgevoer moes word, sal dit ’n nuwe soort migrerende arbeidstelsel beteken.

Dit sou impliseer dat werkgeleenthede beperk word vir mense in gebiede waar hulle oorverteenwoordig is en dat miljoene mense dus moet trek na ander dele in die land waar hul rassekategorie onderverteenwoordig is.

swart en wit
Onbuigsame kwotas vir rasverteenwoordiging kan dit moeiliker maak om werk te kry in sekere streke, glo die Sakeliga. Foto: Unsplash

Dis van Piet le Roux, uitvoerende hoof van die sakeorganisasie Sakeliga, se kritiek op die wysigingswetsontwerp oor diensbillikheid.

Die Sakeliga was deel van openbare sittings vandeesweek oor die wetgewing voor die parlement se portefeuljekomitee oor arbeid en indiensneming.

Le Roux het gewys op drie probleme van die wetsontwerp: die tydsberekening, die implikasie van die visie daarvan en rasseklassifikasie, waarvan hy glo Suid-Afrika moet wegbeweeg pleks van dit benadruk.

Die wetsontwerp kom op ’n tyd waarin Suid-Afrika nie nog meer rompslomp kan bekostig te midde van swak ekonomiese groei en die Covid-19-inperkings nie, volgens Le Roux.

Martin van Staden, regsgenoot by die Sakeliga, het tegniese probleme met die wetsontwerp uitgelig, soos dat geen impakstudie daaroor gedoen is nie en dat die minister wye diskresie kry om self reëls te maak.

Kaapse Kamer van Koophandel

Jacques Moolman, president van die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid, het die wetsontwerp as apartheid in trurat beskryf.

Dis volgens hom ’n futiele poging tot grootskaalse maatskaplike ingenieurswese soortgelyk aan die ou apartheidsburokrate, asook Nazi-Duitsland. Die wetsontwerp kan met die ou Groepsgebiedewet, die paswette, die tuislandstelsel en die destydse reëls oor werkreservering vir bruin mense in die ou Kaapprovinsie vergelyk word, sê Moolman.

Busa

Business Unity South Africa (Busa) se kritiek op die wetgewing berus op die feit dat die jongste weergawe die voorskrif weglaat dat die minister die bedryf moet raadpleeg voordat teikens gestel word.

Cas Coovadia, uitvoerende hoof van Busa, sê die nasionale ekonomiese ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac) het al sedert 2017 die wetgewing bespreek en alle rolspelers in Nedlac het ingestem dat die minister die bedryf moet raadpleeg.

Cas Coovadia, uitvoerende hoof van Business Unity South Africa. Foto: Herman Verwey

Dis ingesluit in die weergawe van die wetsontwerp wat in 2018 in die Staatskoerant vir openbare kommentaar gepubliseer is, maar uitgelaat in die jongste weergawe.

Tans moet werkgewers hul werknemers raadpleeg oor regstellende aksie, maar die nuwe wetgewing gee die minister mag om teikens op te dwing ongeag wat werknemers sê. Dit maak die raadpleging met werknemers betekenisloos, sê Coovadia.

Solidariteit

Die vakbond Solidariteit het die wetgewing as onsamehangend gekritiseer. Solidariteit voer aan die wetgewing sluit nie wysigings in wat die Menseregtekommissie (MRK) in sy gelykheidsverslag van 2018 aanbeveel het nie.

Die MRK het toe al bevind die wetgewing voldoen nie aan die Grondwet nie en oortree die verpligtinge wat die internasionale konvensie vir die uitwissing van alle rassediskriminasie oplê. Suid-Afrika het dié konvensie in 1998 bekragtig.

Cosatu

Die vakverbond Cosatu steun op sy beurt die wetgewing en dink dit verskaf dringend die nodige ingryping om werkgewers verantwoordbaar te hou vir hul mislukkings met regstellende aksie.

Matthew Parks, parlementêre koördineerder van Cosatu, sê hulle is bemoedig deur progressiewe voorsienings in die wetsontwerp, soos dat werkgewers jaarliks moet bevestig of hulle al hul werkers teen die minimum loon of meer vergoed het.

Die vakverbond steun dat die minister meer presiese teikens vir sektore, beroepe en streke kan voorskryf en dat daar ruimte vir streek- en substreekafwykings is.

Parks sê die parlement moet hom nie aan die doemprofete steur nie.

“Navorsing het al talle kere gewys werkers wat met respek behandel en behoorlik vergoed word, is die beste gemotiveerd en dra dus produktief tot die werkplek en die ekonomie by.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.