Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Regter smeek wéér: Maak ombud los van Jan Taks

Nie een van die land se ministers van finansies van die afgelope vyf jaar het nog gereageer op tientalle briewe van die belastingombud waarin hy pleit dat sy kantoor onafhanklik van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) bedryf moet word nie.

Oudregter Bernard Ngoepe, Suid-Afrika se belastingombud.

Die ombud is veronderstel om die SAID dop te hou om te verseker belastingbetalers se regte word beskerm, maar soos dinge tans werk, is hy afhanklik van die SAID vir sy begroting, personeeldienste en selfs die huurooreenkoms vir sy kantore.

Regter Bernard Ngoepe, die ombud, sê die feit dat die ombudskantoor goed funksioneer en sy werk doen, beteken nie strukturele onafhanklikheid is onnodig nie.

Tot dusver is daar wedersydse respek tussen die ombud en die SAID-kommissarisse, maar geen openbare kantoor wat landsburgers se regte beskerm behoort te oorleef op grond van individue se reputasie en welwillendheid nie. ’n Wetlike grondslag is nodig.

In 2018-’19 was daar ’n styging van 32% in klagtes oor die SAID wat die ombud se kantoor bereik het.

Die ombud het ook in die tyd van die afgedankte kommissaris Tom Moyane skerp bevindings gedoen oor hoe BTW-terugbetalings in die maande voor die einde van die belastingjaar dramaties afgeneem het, vermoedelik in ’n poging om die belastinginkomstesyfers beter te laat lyk.

Ngoepe het Dinsdag belasting- en regskenners, verteenwoordigers van die burgerlike samelewing en bedryfsinstellings, en akademici na ’n gespreksgeleentheid oor die kwessie in Sandton genooi.

Ngoepe het aan die gehoor gesê die ombud het ’n dieptestudie oor die situasie gedoen. ’n Verslag met aanbevelings vir die strukturele verandering is reeds vyf jaar gelede in Nhlanhla Nene se eerste termyn as minister van finansies aan die ministerie oorhandig.

Die ombud sê sy pleidooie het sedertdien op dowe politieke ore geval, en die kwessie is sonder rede van die parlementêre komitee se Desember-agenda verwyder, maar hy sal hom nie van stryk laat bring nie.

Ngoepe sê wanneer sy termyn einde September 2022 eindig, wil hy die kantoor van die belastingombud op ’n stewige fondament laat om sy toesigrol oor die SAID behoorlik te kan verrig.

Die studie toon dit kan sowat R10 miljoen kos om die strukturele onafhanklikheid van die kantoor te verseker.

Ngoepe sê geld is nie die probleem nie. “Dis ’n gebrek aan politieke wil. Ek glo nie Suid-Afrikaners wil belasting vermy of ontduik nie, maar die manier waarop die belastinggaarder belastingbetalers hanteer, skep probleme. Belastingbetalers se regte moet beskerm word en daar kan nie ’n prys op dié regte geplaas word nie.

“Sakemense het al in my kantoor sit en huil. Een het vertel toe hy die oggend opstaan, is sy onderneming se R20 miljoen-rekening onregmatig bevries. Die regte prosedure is nie gevolg nie.

“Die man kan nie sy personeel of krediteure betaal nie.”

Prof. Deborah Tickle van die Universiteit van Kaapstad het by die gespreksgeleentheid gesê daar is verskillende vlakke van onafhanklikheid van belastingombuds elders in die wêreld.

In Mexiko, ’n voorbeeld van totale onafhanklikheid, het die belastingombud uitgebreide magte en hy tree selfs as arbiter op vir sekere belastingbetalers.

Dit skep vertroue in die stelsel by belastingbetalers en verbeter só belastingmoraliteit en -nakoming, asook belastinginkomste.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.