Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Regulasies: Dié lughawens ook nou oop

Suid-Afrikaners kan nou na nóg ses binnelandse lughawens vlieg.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Maandag aangekondig dat die volgende lughawens weer van 1 Julie af kan oopmaak:

  • Bram Fischer in Bloemfontein
  • Kruger Mpumalanga naby Nelspruit
  • Pietermaritzburg
  • Port Elizabeth
  • Richardsbaai
  • Skukuza
  • Upington

Twee lughawens wat nié mag oopmaak nie, is George en Oos-Londen.

Mbalula sê hulle wou graag dié twee lughawens ook op 1 Julie laat heropen, maar albei het egter nie aan die gesondheidsvereistes voldoen nie.

Fikile Mbalula, minister van vervoer Foto: Departement van Vervoer

Mbalula het ook herhaal dat Suid-Afrikaners nét vir sakedoeleindes binnenslands mag vlieg.

Die vier lugdienste wat tans vlugte bied, is Cemair, SA Airlink, Mango en FlySafair.

Kos wat wél op vlugte voorgesit mag word, moet nou vooraf – in individuele verpakkings – reeds op die sitplekke vir passasiers gelaat word.

Mbalula sê dit is om die interaksie tussen mense te verminder.

Alle internasionale vlugte vir passasiers bly steeds verbode.

Dit sluit egter repatriasievlugte uit. Dié vlugte moet egter eers vooraf deur die departement goedgekeur word.

Op die vraag oor presies wanneer internasionale passasiersvlugte weer toegelaat word, sê Mbalula dit sal toegelaat word wanneer die sektor reg is daarvoor.

Hy het nié gesê of dit op vlak 1 of vlak 2 gaan wees nie.

Mbalula sê veral gegewe dat sportbyeenkomste met toeskouers ook nié tans in die land toegelaat word nie, is daar ook nie toerisme nie.

“Toeriste kom na Suid-Afrika om na sport te kyk.”

Hy het spesifiek op die gevaar daarvan gewys om juis nou sportbyeenkomste oop te maak vir toeskouers nadat die tennisspeler Novak Djokovic, sy vrou en ander tennisspelers die koronavirus by ’n toernooi opgedoen het.

Mbalula sê dit is om dié rede dat internasionale vlugte hervat sal word soos wat die vlak van inperking daal, en soos wat die land gereed is om besoekers te ontvang.

Buiten vir die lughawens wat weer in bedryf gestel gaan word, is talle ander bedrywighede in die lugvaartbedryf óók weer oopgestel.

Vlugte word nou toegelaat vir:

  • Die spuit, saai en afstof vir landbou-doeleindes;
  • Uitdunning van wild;
  • Konstruksie;
  • Lug-oes;
  • Lugwaarneming en -opnames;
  • Lugadvertensies, insluitend baniere wat deur die lug getrek word;
  • Soek en redding;
  • Valskermspring;
  • Lugfotografie;
  • Brandbeheer en bestryding;
  • Goedgekeurde streekherposisioneringsvlugte vir alle Suid-Afrikaanse en buitelandse geregistreerde vliegtuie na en van Suid-Afrika vir terugkeer na onderhoud en herstel, om onderhoud en herstelwerk uit te voer of om voort te gaan met kontraktuele werk binne Suid-Afrika of in die buiteland in die streek;
  • Uitruil van bemanningslede wat in die buiteland werksaam is soos en wanneer nodig;
  • Internasionale vervoer van lugvaarttegnici, werktuigkundiges en ingenieurs vir noodsaaklike ondersteuning en hulp aan vliegtuie;
  • Vaardigheidsvlugte op voorwaarde dat die vlug deur die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (Sabo) gemagtig is en binne die algemene vlieggebied, lugvelde of lughawegrense bly; en
  • Ontspanningsvliegtuie word toegelaat vir vaardigheidsvlugte mits die vlug deur Sabo gemagtig is en binne die algemene grense van die vlieg, lugveld of lughawe bly.

Mbalula het ook verduidelik hoekom lugdienste vliegtuie 100% mag vul, terwyl taxi’s dit nié mag doen nie.

Hy wys daarop dat alle vliegtuie oor al die nodige lugfilters wat lug suiwer, beskik.

Taxi’s het nié die filters nie, en dit is hoekom hulle nié 100% vol mag wees nie.

Taxi-operateurs sal van Maandag af landwyd hul voertuie vol passasiers laai en reise oor provinsiale grense hervat.

Phillip Taaibosch, voorsitter van die taxi-vereniging Santaco, het dié stap Sondag op ’n mediakonferensie aangekondig nadat Mbalula Sondag ’n vierde keer ’n vergadering met Santaco uitgestel het.

Taaibosch sê die regering hou die taxi-bedryf in die duister, terwyl operateurs weens die beperkings op die hoeveelheid passasiers en vervoer oor lang afstande sukkel om ’n behoorlike inkomste te verdien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.