Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rekord op JSE duur nou al 8 maande in ’n ry

Suid-Afrikaanse aandele het in Mei die rekord voortgesit van hoeveel maande agtereenvolgens die aandelemark hoër gesluit het.

Die JSE sluit nou al sedert Oktober elke maand hoër.

Peter Little, fondsbestuurder van Anchor Capital, sê die JSE styg reeds sedert Oktober 2020 onverpoos. Dit is die langste tyd nóg agtereenvolgens.

Die Capped Swix oftewel aangepaste indeks van alle aandele (wat die grootte van dubbele genoteerde aandele beperk) het einde Mei ’n totale opbrengs van 2,9% (ingesluit die belegging van dividende) gelewer.

Volgens hom was Mei ’n goeie maand vir maatskappye wat op die plaaslike mark fokus, soos banke, versekeraars en kleinhandelaars wat tesame ’n opbrengs van meer as 10% vir die maand gelewer het.

“Oor die algemeen was daar ’n beter sentiment teenoor sikliese ondernemings en sektore wêreldwyd aangesien ontwikkelde lande se ekonomieë ná goeie vordering in hul inentingsprogramme begin heropen het. Die sikliese ondernemings was ongewild gedurende die pandemie maar dit lyk nou of hulle meer aantreklik gewaardeer is as die wêreld ’n meer volhoubare ekonomiese herstel betree.”

Dit is ondernemings, soos winkelgroepe, wat meer sensitief is vir sakesiklusse en wat hoër inkomste toon wanneer dit beter gaan.

Little sê aankondigings van ’n paar plaaslike maatskappye, soos Standard Bank se handelsoorsig en Mr Price se resultate, vertel ook ’n verhaal van dinge wat effens beter gaan as verwag.

Mynmaatskappye het effens gewankel in Mei en -1,5% gelewer. Dít het die opbrengs op die aandeelmark in Mei beperk ten spyte van goudmynmaatskappye wat ’n baie sterk opbrengs van 19% gelewer het.

Mynmaatskappye het egter sedert die begin van die jaar sowat die helfte van die opbrengs op die plaaslike mark getoon.

Naspers en Prosus het ook die mark se vertoning beperk omdat hulle saam -8% gelewer het.

Little sê dit hou verband met ’n swak maand wat hul kernbelegging, Tencent, in Hongkong beleef het, tesame met die sterk rand wat die beste prestasie teen die dollar van groot geldeenhede gelewer het.

Ten spyte van die sterk rand kon twee ander swaargewigte in die indeks, wat hul inkomste oorwegend in die buiteland verdien, Richemont en Anheuser-Busch InBev, onderskeidelik 11% en 1,3% lewer.

Little sê beleggers het goed op hul resultate gereageer.

Mr Price het ’n baie sterk opbrengs van 28% in die maand gelewer nadat sy resultate die verwagtinge oortref het.

Volgens hom was dit danksy ’n sterk vertoning in die tweede helfte van sy boekjaar en markaandeel wat gewen is.

Die indeks van alle aandele (Alsi) het in Mei met net 1,6% gestyg omdat dit groter blootstelling het aan die maatskappye wat gedurende die maand swak gevaar het.

Naspers en Prosus maak byna 11% van die Capped Swix uit en 17% van die Alsi, sê Little.

Hulpbronmaatskappye verteenwoordig 31% van die Capped Swix en 38% van die Alsi.

Meer oor:  Mynbou  |  Markte  |  Banke  |  Jse  |  Tegnologie  |  Kleinhandelaars  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.