Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rentekoers bly onveranderd, maar 5 stygings kom

Daar was geen verrassing uit Pretoria Donderdag nie. Soos voorspel, het die Reserwebank sy repokoers onveranderd op 3,5% gelaat.

Dit beteken die prima rentekoers van banke bly onveranderd op 7%. Dis die vyfde sitting van die monetêrebeleidskomitee (MBK) dat die koers onveranderd gelaat word.

Al vyf lede van die MBK het vir die onveranderde koers gestem.

Trajek van rentekoers

Die slegte nuus vir mense met skuld is egter dat die Reserwebank se kwartaallikse projeksiemodel vyf rentekoersverhogings oor die volgende 18 maande voorspel.

Suid-Afrika staan op die vooraand van ’n siklus rentekoersstygings. Grafika: iStock

Die eerste rentekoersverhoging, van 25 basispunte, word in die vierde kwartaal verwag, dus óf in September óf in November. Dis teenoor die verwagting dat dit reeds vanaf Mei sou styg (’n verwagting wat die MBK geïgnoreer het in sy Mei-besluit om die koers onveranderd te hou).

Die model voorsien ook ’n rentekoersverhoging in elkeen van die vier kwartale van 2022.

Dit beteken dat die rentekoers potensieel teen einde 2022 altesame 1,25 persentasiepunte hoër gaan wees as nou. Dit sal die prima rentekoers op 8,25% te staan bring.

Die model is gegrond op data en word heeltyd bygewerk; die MBK kan ook, soos gereeld gebeur, besluit om nie die model na te volg in sy besluit nie.

Impak van onluste

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het gewaarsku dat verlede week se onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng die vooruitsigte vir ekonomiese groei laat verswak het.

“Deur onsekerheid te verhoog en beleggersvertroue te ondermyn, sal die onlangse onluste in dele van die land waarskynlik ons voortgesette herstel laat verlangsaam.”

Dis benewens die feit dat Suid-Afrika en die wêreld waarskynlik onderhewig gaan bly aan nóg vlae Covid-19-infeksies omdat inentings stadig en oneweredig plaasvind.

Kganyago het later herhaal die onluste kan ’n “blywende uitwerking op beleggersvertroue en werkskepping hê”.

Die Reserwebank het sy verwagting vir ekonomiese groei vir 2021 onveranderd gelaat sedert Mei, op 4,2%, hoewel daar vóór die plundery en geweld hoop was dat die verwagting sou kon verhoog. 

Die groeiverwagting vir 2022 en 2023 is ook onveranderd gelaat op onderskeidelik 2,3% en 2,4%.

Die Reserwebank het sy verwagting vir inflasie verhoog, maar net effens, van 4,2% tot 4,3% vir 2021.

Die inflasieverwagting op kort termyn is juis hoër weens verwagte voorraadtekorte wat deur die ontwrigting van vervoernetwerke veroorsaak word, nog ’n uitvloeisel van die onluste.

Die bank is op kort termyn ook bekommerd oor plaaslike stygings in die prys van brandstof, krag en kos, en ook oor hemelhoë eise vir loonverhogings.

Ander risiko’s vir inflasie kom egter van buite die land, naamlik wêreldwye tekorte en ’n hoër vraag na produkte.

Die verwagting is dat inflasie in 2022 tot 4,2% sal terugsak (teenoor Mei se voorspelling van 4,4%). Vir 2023 word 4,5% voorspel (onveranderd teenoor Mei).



MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.