Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rentekoers dalk nou laagste wat dit gaan wees

As jy beplan om binnekort ’n huis of motor te koop of dalk om ’n oorsese vakansie op jou kredietkaart te finansier, oppas om te veel skuld-hooi op jou vurk te laai.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebankgebou in Pretoria. Foto: Getty Images

Die rentekoers, wat die laagste in nagenoeg 50 jaar is, gaan dalk nie verder daal nie – en kan teen einde 2021 weer begin styg.

Die Reserwebank skryf in sy sesmaandelikse oorsig oor monetêre beleid: “Met plaaslike rentekoerse op rekordlaagtepunte en inflasie oënskynlik verby die onderste draaipunt, is dit waarskynlik dat die repokoers in die toekoms effens hoër gaan beweeg. Dié normalisering van die repokoers gaan egter waarskynlik geleidelik wees, met koerse wat lank laag gaan bly.”

Die Reserwebank sê hy verbind hom nie tot ’n spesifieke pad vir rentekoerse nie – alles hang van data af soos dit ontvou – maar die kwartaallikse projeksiemodel dui daarop dat die repokoers teen einde 2021 die eerste keer gaan styg. Dit sal dan geleidelik aanhou styg totdat dit teen einde 2022 weer is waar dit voor die Covid-19-krisis was, dus 2,75 persentasiepunte hoër.

Hoe laag is laag?
  • Die koers waarteen die Reserwebank geld aan handelsbanke leen, is nou die laagste sedert 1973, dus 47 jaar gelede, toe dit drie maande lank 3,15% was. Dit was toe nog nie as die repokoers bekend nie. Die repokoers is tans 3,5%.
  • Die prima rentekoers van banke was 54 jaar laas op 7%, soos tans.

Die Reserwebank skryf dat hy die rentekoers skerp verlaag het voordat die volle omvang van die Covid-19-skok die ekonomie getref het. Dis omdat dit ’n rukkie duur voordat monetêre beleid wel ’n impak op die werklike ekonomie het.

Dis gedoen “om vroeg die maksimum steun aan die ekonomie te verleen”.

Die sentrale bank haal bewyse aan dat die verlaging van die rentekoers wel die ekonomie ondersteun het, veral wat betref die vraag na krediet. Die aansoeke vir huislenings is nou op ’n tienjaarhoogtepunt.

Die Reserwebank sê nadat hy in Maart en April die rentekoers met ’n persentasiepunt verlaag het en in Mei met ’n halwe persentasiepunt, het hy ’n “wag-en-kyk”-benadering gevolg. In Julie is die rentekoers met 0,25 van ’n persentasiepunt verlaag en in September glad nie.

Die bank gee toe dat groot onsekerheid oor die mediumtermynvooruitsig vir ekonomiese groei en inflasie nog heers. Daar is ook groot onsekerheid oor belangrike prysaandrywers, soos die olieprys, die wisselkoers en die huismark.

“Die benadering om vinnig en voorkomend op te tree, en dan te verlangsaam om nuwe inligting op te weeg, het markte by tye verras.

“Sommige ontleders het verwag dat die Reserwebank koerse verder sou verlaag toe inflasie tot onder die teikenband geval het. Die feit dat inflasie in Mei en Junie tot onder 3% geval het, was egter nie op sigself ’n rede om beleid verder te verslap nie. Dié lae inflasiekoerse is reeds in die April- en Mei-voorspellings verwag, en het dus nie as verrassings gekom nie.”

Die Reserwebank sê hy kyk vooruit eerder as terugskouend na inflasie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.