Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rentekoers dalk reeds in Julie verlaag

Die effense styging in die inflasiekoers in Mei gaan nie die Reserwebank se siening oor die rentekoers beïnvloed nie, volgens ontleders.

Die Reserwebank behoort in Julie die rentekoers te verlaag, reken talle ekonome. Grafika: iStock

Verlede week het Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, gesê as Suid-Afrikaners eersdaags ’n laer repokoers wil hê, moet inflasie eers op die huidige vlakke naby die middelpunt van sy teikenband (3% tot 6%) geanker word.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het Woensdag bekend gemaak die inflasiekoers vir Mei was 4,5%, teenoor April se 4,4%.

Mei was die 26ste opeenvolgende maand waarin die inflasiekoers binne die Reserwebank se teikenband gebly het, en ook die sesde maand in ’n ry dat dit om die middelpunt wentel.

Volgens Nedbank is die geringe styging in Mei nie ’n bedreiging vir ’n moontlike verlaging van die repokoers nie.

“Die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee sal dit moeilik vind om ’n besluit te regverdig om nié die repokoerse op sy Julie-vergadering te sny nie,” sê die bank in ’n verslag oor die inflasiesyfers.

Inflasie se verwagte opwaartse koers vanjaar gaan waarskynlik nie so steil wees nie, as dit in die eerste plek enigsins opwaarts neig.
Annabel Bishop van Investec

Kganyago het verlede week in ’n toespraak aan buitelandse afgevaardigdes gesê die Reserwebank se modelle dui op ’n geleentheid om die repokoers te verlaag, maar eers vanaf 2020.

Moody’s Investors Service, FNB, Investec en Nedbank reken egter die repokoers kan in der waarheid al in Julie gesny word.

Die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee vergader op 18 Julie om te besluit oor die repokoers. Die repokoers is die koers waarteen die Reserwebank op kort termyn geld aan banke leen. Dis tans 6,75%. Banke se prima rentekoers is tans 10,25%.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, sê die Reserwebank gaan heel waarskynlik nou besluit om sy tydlyn te versnel, ten spyte van wat sy modelle aandui.

“Inflasie se verwagte opwaartse koers vanjaar gaan waarskynlik nie so steil wees nie, as dit in die eerste plek enigsins opwaarts neig,” sê Bishop.

Nedbank se vooruitsig dui op ’n algehele inflasiekoers vir 2019 van slegs 4,4%. FNB stem ook saam dat dit laer as die middel van die teikenband sal wees.

“Die powere werkloosheidsyfers in die eerste kwartaal, tesame met die kwynende ekonomiese groei in dieselfde tydperk, beklemtoon die feit dat daar hoogs onwaarskynlik enige regte vraagkantdruk op pryse op mediumtermyn sal wees,” sê Nedbank.

Ons verwag dus steeds dat die Reserwebank binnekort ’n meer verslapte benadering tot monetêre beleid sal voorstaan
Matlhodi Matsei van FNB

Verder reken dié bank dat die twee faktore wat die grootste risiko vir Suid-Afrika se inflasievooruitsigte verteenwoordig, eintlik reeds “geneutraliseer” is. Sowel ’n swakker rand as hoër oliepryse het die potensiaal om tot hoër inflasie te lei, maar word deur die swak plaaslike vraag na goedere en dienste uitgekanselleer.

Bishop wys daarop dat dié effek reeds in Mei sigbaar was. Ten spyte van ’n styging van 3,3% (54c) in die petrolprys, het dit slegs 0,1 van ’n persentasiepunt tot die 0,3%-maandstyging in die inflasiekoers bygedra.

Bishop verwag dat die klein 9c-styging in die petrolprys in Junie basies geen druk op dié maand se inflasiesyfers sal uitoefen nie.

Investec en FNB verwag dat die repokoers met 25 basispunte verlaag gaan word.

“Die maand se inflasiekoers was heeltemal binne ons verwagtings,” sê Matlhodi Matsei, ’n FNB-ekonoom.

FNB sien ook nie enige werklike risiko vir ’n hoër inflasiekoers vanjaar nie.

“Ons verwag dus steeds dat die Reserwebank binnekort ’n meer toeskietlike benadering tot monetêre beleid sal voorstaan,” sê Matsei.

Meer oor:  Rentekoers  |  Ekonomie  |  Inflasie  |  Repokoers  |  Vpi1905  |  Inflasiekoers  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.