Mense wat skuld het, moet eerder nie staatmaak op ’n verlaging van die rentekoers Donderdag nie – en waarskynlik ook nie vir die res van die jaar nie.
Inteendeel, daar is ’n risiko – oftewel goeie nuus vir mense wat op ’n rente-inkomste staatmaak – dat die rentekoers vanjaar verhoog gaan word. Dit word egter nie eerskomende Donderdag reeds verwag nie.

As jy skuld het, moet jy dalk by voorbaat die rieme dun sny, aangesien rentekoersverhogings later vanjaar verwag word. Foto: iStock
“Verdere rentekoersverlagings sal nie veel doen om groei te versnel nie, gegewe dat daar min wegkalwing van strukturele hindernisse was,” sê Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec.
Volgens haar sal ’n verlaging die rand verswak, maar so ook ’n verhoging, juis omdat dit die mark heeltemal onkant sal vang.
Bishop sê Investec verwag vanjaar twee rentekoersverhogings – in Mei en weer in September of November.
Die verwagte hoër inflasiekoers vanjaar gaan waarskynlik reëel negatiewe rentekoerse oplewer. Dis wanneer die repokoers (tans 3,5%) minus die inflasiekoers negatief (tans 3,2%) is.
Die Reserwebank het histories nie ’n aptyt om rentekoerse vir lank reëel negatief te laat nie, hoewel dit wel al gebeur het.
Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep, het vroeër daarop gewys dat die reële repokoers tydens Gill Marcus se termyn as president van die Reserwebank gemiddeld -0,5% was. “Toe was daar geen pandemie nie en die ekonomie het met sowat 2,5% per jaar gegroei.”
Marcus was vanaf 2009 tot 2014 aan die stuur van die Reserwebank. Haar opvolger, Lesetja Kganyago, word as versigtiger beskou wat die verlaging van rentekoerse betref.
Die inflasiekoers vir Desember, en dus vir die hele 2020, word Woensdag deur Statistieke Suid-Afrika uitgereik.
In November was inflasie 3,2%, wat beteken dit was nege maande agtereenvolgens laer as 4,5%, die middelpunt van die Reserwebank se teikenband (3% tot 6%). Die koers was laas in Maart 2017 op 6,1% hoër as die teikenband, en was in 2020 twee keer – in Mei (2,1%) en Junie (2,2%) – laer as die teikenband.
Die rentekoers is in 2020 met drie persentasiepunte verlaag, wat banke se prima koers op 7% te staan bring.
In November, die Reserwebank se laaste rentekoersbesluit vir 2020, het die bank se kwartaallikse projeksiemodel ’n moontlikheid voorsien dat die rentekoers in die derde en vierde kwartaal van 2021 met 0,25 van ’n persentasiepunt per keer verhoog kan word.
Die projeksiemodel word gereeld op grond van nuwe data aangepas. Verskeie faktore kan vanjaar tot hoër inflasiekoerse lei – die heel belangrikste waarskynlik die feit dat pryse verlede jaar betreklik gedemp gestyg het te midde van die streng fases van die inperking, en dus ’n baie lae grondslag skep waarvan inflasie vir vanjaar gemeet word. Ander faktore is:
- die veel hoër internasionale brandstofpryse van die afgelope weke;
- Eskom se verwagte skerp stygings in kragtariewe in April;
- tekens dat kospryse skerper begin styg; en
- verwagte hoër of nuwe belastings wat in Februarie se begrotingsrede aangekondig kan word. Suid-Afrikaners is reeds in Oktober verlede jaar gewaarsku dat R5 miljard se “nuwe” belasting ingevorder moet word, maar die tesourie het toe geweier om die sluier te lig oor waar dié geld gevind sou word.
Op die internasionale front is daar ook vir die Reserwebank gronde om die rentekoers eerder onveranderd te hou, volgens Bishop. Sy verwag dat die stimuluspakket in die VSA groter gaan wees as verwag en daartoe kan lei dat opbrengskoerse in dié land styg. Dit sal beleggings in ontluikende lande minder aanloklik maak – iets wat deur nog laer rentekoerse versnel sal word.