Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rentekoers: Geen goeie nuus vir dié met skuld

Die Reserwebank het geen verligting vir vuisvoos verbruikers gebring nie – inteendeel, die sentrale bank het net nog ’n alarm laat afgaan.

Die Reserwebank het die rentekoers Donderdag onveranderd gehou. Grafika: iStock

Lesetja Kganyago het die repokoers Donderdag in Pretoria onveranderd op 6,5% gelaat, wat beteken die prima rentekoers van banke bly onveranderd op 10%. Dis in pas met die meerderheid ekonome se verwagting.

Drie van die sewe lede van die monetêrebeleidskomitee het gestem ten gunste van ’n verhoging  van 0,25 van ’n persentasiepunt in die rentekoers. Geen lid het voorgestel dat die rentekoers verlaag word nie.

Dit beteken die kans is nou aansienlik groter as in Julie dat die rentekoers binnekort gaan begin styg. Die Reserwebank besluit weer op 22 November oor die rentekoers.

Oor die volgende paar jaar gaan die rentekoers waarskynlik vyf keer met 0,25 van ’n persentasiepunt styg van nou tot einde 2020, toon die Reserwebank se voorspellingsmodel. Dit was in Julie ook vyf keer. Die voorspellingsmodel dui nie aan wanneer die stygings kan kom nie en word aangepas soos wat data verander.

Die Reserwebank het sy verwagting vir inflasie opwaarts aangepas, grootliks weens eksterne faktore soos die swak rand en hoër internasionale oliepryse.

Die bank verwag steeds dat inflasie in 2018 gemiddeld 4,8% gaan beloop, soos in Julie voorspel is. In in 2019 gaan dit egter tot 5,7% styg teenoor 5,6% wat in Julie voorspel is. In 2020 behoort inflasie steeds op gemiddeld 5,4% te bly.

Die inflasiekoers gaan volgens die bank se voorspellings in die tweede kwartaal van 2019 by 5,9% draai, ongemaklik naby aan die boonste punt van die teikenband van 3% tot 6%.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. Foto: Denzil Maregele

Die grootste risiko vir inflasie bly die rand. Kganyago sê die rand is ondergewaardeer. Die rand het sedert Julie met 7,1% verswak op ’n handelsgeweegde grondslag.

Nog ’n groot inflasierisiko is brandstofprys, maar grootliks weens die swakker rand eerder as ’n styging in oliepryse relatief tot wat in Julie voorspel is.

Kganyago sê die verhoging van belasting op toegevoegde waarde (BTW) in April het steeds ’n gedempte uitwerking op die inflasiekoers.

Hy het kommer uitgespreek oor die skerp styging in die verhoging van staatsamptenare van baie meer as die inflasiekoers (tussen 6% en 7%). Salarisverhogings is ’n belangrike aandrywer van inflasie, sê Kganyago.

Krag- en waterpryse en eiendomsbelasting styg ook met meer as die algemene inflasiekoers.

Die handelsoorlog tussen die wêreld se twee grootste ekonomieë gaan beslis ’n negatiewe uitwerking op die rand hê en gaan bydra tot stygende inflasie.

Kganyago het in vraetyd gesê dis vir die Reserwebank baie belangrik dat inflasie nader aan die middelpunt van sy teikenband, naamlik 4,5%, bly. Hy sê oor die jare heen het ’n “narratief” ontstaan dat die Reserwebank 6% teiken. Die probleem is dan dat inflasieverwagtinge hoër geanker word en daar minder beweegruimte is as daar ’n inflasieskok kom.

Die Reserwebank het sy verwagting vir ekonomiese groei vir die tweede keer vanjaar verlaag, dié keer tot net 0,7% vir die volle 2018. In Julie was die verwagting nog 1,2%. Vir 2019 en 2020 verwag die bank steeds 1,9% en 2%.

  • Kganyago het die nuuskonferensie afgesluit deur afskeid te neem van Brian Kahn, wat nie minder nie as 121 vergaderings van die monetêrebeleidskomitee - dus 20 jaar lank - bygewoon het in sy jare by die Reserwebank. Hy het aftreeouderdom bereik.
Meer oor:  Lesetja Kganyago  |  Inflasiekoers  |  Reserwebank  |  Rentekoers  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Inflasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.