Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rentekoers: Geen pasella uit Pretoria

Daar was geen pasella uit Pretoria nie – nie vir mense met skuld wat hoop op selfs laer rentekoerse nie, en ook nie vir spaarders wat hoop dat die koers ’n slag verhoog sal word nie.

Die Reserwebank het die repokoers onveranderd op 3,5% gelaat, wat beteken banke se prima rentekoers bly 7%.

Dis in pas met wat ekonome vooraf verwag het.

Dis die vierde agtereenvolgende sitting van die monetêrebeleidskomitee (MBK) dat die koers onveranderd gelaat word. In 2020 is die koers vyf keer verlaag, met altesame drie persentasiepunte.

Al vyf lede van die MBK het saamgestem oor die besluit.

Daar is egter ’n verwagting dat die rentekoers in die tweede kwartaal (dus in Mei) en vierde kwartaal (September of November) elke keer met 0,25 van ’n persentasiepunt verhoog gaan word.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het kommer uitgespreek oor die trae pas van inentings en die moontlikheid van ’n derde golf Covid-19-gevalle, nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. Dit kan ekonomiese herstel verlangsaam.

“Totdat inenting verspreid is en bevolkings voldoende immuniteit ontwikkel om die oordrag van die virus te stuit, word verwag dat golwe infeksies sal voortduur.”

Plaaslik is beurtkrag ’n groot bron van kommer, asook hoër brandstofpryse. Kganyago het in vraetyd gesê die hernude beurtkrag wat die afgelope ruk toegepas is, het die herstel van die ekonomie baie geknou.

Kragtariewe gaan ook aansienlik styg vanjaar.

Daar is ook vrees oor die kwesbaarheid van die rand.

“In onlangse weke het hernude onsekerheid gelei tot groter wisselvalligheid in kapitaalvloei en geldeenhede. Dit weerspieël groot sensitiwiteit jeens risiko, veral vir ekonomieë wat nie voordeel trek uit die verbeterde vooruitsigte in die wêreld nie of wat groot makro-ekonomiese wanbalanse het.

“Hoewel wêreldwye rentekoerse waarskynlik akkommoderend gaan bly, sal risiko-afkeer voortsleep.”

Die risiko vir inflasie lyk nietemin vir die bank redelik gebalanseerd.

Die sentrale bank verwag nou sterker ekonomiese groei van 3,8% vir 2021. Dis teenoor die verwagting vir 3,6% in Januarie. Vir 2022 word 2,4% voorspel en vir 2023 2,5%.

Wat inflasie betref, verwag die Reserwebank nou dat inflasie in 2021 tot gemiddeld 4,3% gaan styg. Dis teenoor Januarie se verwagting van 4%. Vir 2022 word 4,4% voorspel en vir 2023 4,5%.

Die Reserwebank se gebou in die middestad van Pretoria.
Meer oor:  Rentekoers  |  Ekonomie  |  Inflasie  |  Inflasiekoers  |  Monetêre Beleid  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.