Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rentekoers: Genadetyd vir mense met skuld

Verbruikers is teen einde Januarie redelik vuisvoos weens skool- en klasgeld wat betaal moet word, en als van mediesefondspremies en gim-lidmaatskap tot data wat duurder word.

Die Reserwebank kondig volgende Donderdag aan wat sy besluit oor die rentekoers is.

Daar is egter een ding waaroor hulle nié nou dadelik bekommerd hoef te wees nie: die rentekoers.

Ekonome is betreklik seker dat die Reserwebank nié op 17 Januarie die rentekoers gaan verhoog nie danksy die versterking van die rand (tot nagenoeg R13,85), wat inflasie kan help temper.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, sê die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed) is nou minder aggressief oor moontlike toekomstige rentekoersverhogings as in November, die vorige keer toe die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee (MBK) oor die rentekoers besluit het. Tóé het die MBK skuldbelaaide verbruikers geskok met ’n styging van 0,25 van ’n persentasiepunt in die rentekoers.

Bishop sê dit sal dalk glad nie nodig wees om die rentekoers in 2019 te verhoog nie.

Die bepalende faktor is egter Moody’s Investors Service se kredietgradering in Maart, wat kom ná Februarie se begrotingsrede. Bishop sê die begroting gaan waarskynlik die deurslag gee.

Suid-Afrika sal dit moeilik vind om ’n verhoging in die rentekoers te vermy in die aangesig van die beduidende randswakheid wat ’n afgradering sal meebring.
Annabel Bishop, Investec-ekonoom

Nog iets waarop Bishop wys, is dat die Reserwebank na die langtermyntendens van inflasie kyk – beslis 12 tot 18 maande, maar selfs 24 maande vooruit.

Die Reserwebank het in November inflasie van 5,6% vir 2020 verwag, wat ongemaklik naby aan die boonste grens van sy teikenband van 3% tot 6% is.

“Die verlaging in die petrolprys oor die afgelope maande sou inflasie oor die draai van die jaar verlaag het, en sal om die waarheid te sê die inflasieverwagting vir 2019 verlaag, maar dit sal ook ’n basisuitwerking skep wat inflasie in 2020 waarskynlik sal laat styg.”

Die styging in internasionale oliepryse en die verwagte skerp styging in kragtariewe plaaslik kan inflasie ook opdruk. In dié stadium is daar ’n oorverhaling van meer as 30c per liter in die petrolprys en van tot 62c per liter in die dieselprys vir Februarie, volgens die Sentrale Energiefonds se nuutste syfers, maar as die olieprys aanhou styg, kan ’n daling in die pryse kwyn voordat dit op 31 Januarie vasgestel word.

Kosspryse gaan waarskynlik ook skerper begin styg weens die droogte in groot dele van die somerreënvalstreek in Suid-Afrika en die res van Suider-Afrika..

Bishop verwag nietemin geen rentekoersverhoging in die eerste helfte van 2019 nie, en dalk selfs nie die hele jaar nie.

As Moody’s Suid-Afrika afgradeer, sal dit druk op die rand plaas, wat inflasie en dus die rentekoers kan laat styg. “Suid-Afrika sal dit moeilik vind om ’n verhoging in die rentekoers te vermy in die aangesig van die beduidende randswakheid wat ’n afgradering sal meebring, en ons raam die risiko dat dit gebeur, op minstens 47%.”

Die meeste ekonome verwag een klein verhoging (van 0,25 persenstasiepunt) in die repokoers in 2019. Busisiwe Radebe en Dennis Dykes van Nedbank verwag dit eers in November.

Johan Els, hoof van ekonomiese navorsing by Old Mutual Investment Group, verwag geen verhoging in 2019 nie.

Meer oor:  Annabel Bishop  |  Reserwebank  |  Rentekoers  |  Ekonomie  |  Inflasie  |  Monetêre Beleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.