Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rentekoers: Moenie optimisties wees nie

Talle ekonome reken die Reserwebank het die bus verpas deur nie verlede jaar of vroeg vanjaar die rentekoers skerp te verlaag nie – en daarmee saam is die geleentheid verby om die pap ekonomie te probeer stimuleer.

’n Hele 71% van die ekonome wat die afgelope week aan Netwerk24 se peiling deelgeneem het, verwag dat die sentrale bank die rentekoers Donderdag onveranderd gaan hou op die laaste vergadering van die monetêrebeleidskomitee (MBK) vir 2019.

rentekoers

Dawie Klopper, beleggingsekonoom van PSG Wealth, sê: “Wat die Reserwebank gaan doen en wat ek dink behoort te gebeur, is twee verskillende dinge. Ek dink alles in die ekonomie skreeu om ’n rentekoersverlaging, maar ons weet dat die Reserwebank altyd oorversigtig is en die moontlikheid van ’n kredietafgradering voorop in hul besluit sal stel.”

Klopper reken die rentekoers is hoër as wat dit moet wees. “Ek is van mening met die inflasiekoers so laag soos dit nou is, en met inagneming van uitermate lae rentekoerse in die res van die wêreld, sou die rentekoers nou met minstens 50 basispunte kon daal.”

Elize Kruger, senior ekonoom van NKC African Economics, sê hulle voorspel nou ekonomiese groei van slegs 0,3%, teenoor die 0,5% wat die tesourie voorspel en die 0,7% wat die kredietgradeerder Moody’s Investors Service voorspel. Die matige inflasieverwagtinge en dié “triestige groeivooruitsigte” regverdig volgens haar ’n verslapping in monetêre beleid (dus ’n laer rentekoers).

“Die dreigende risiko dat ons verdere negatiewe kredietgraderingsoptrede oor die volgende ses maande kan kry, sal die Reserwebank waarskynlik oortuig om eerder konserwatief te bly, soortgelyk aan die uitkoms van die September-vergadering.”

Die Reserwebank behoort die rentekoers te verlaag, reken talle ekonome. Grafika: iStock

Moody’s kan Suid-Afrika tot rommelstatus afgradeer ná die onlangse verandering in die vooruitsig na negatief, terwyl Fitch Ratings en Standard & Poor’s Global Ratings die land onderskeidelik dieper in rommelstatus kan afgradeer of die vooruitsig in negatief kan verander.

Kruger sê nog ’n faktor wat tot die Reserwebank se besluit kan bydra, is die somber fiskale prentjie, “wat dui op ’n hoër risikopremie wat aan beleggers gebied moet word”.

Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep, beskou stimulerende monetêre beleid as “dringend” in die lig van die pap ekonomie en werkloosheidskrisis.

“’n Verlaging van 50 basispunte sou van pas wees, maar die MBK het ’n duidelike obsessie met die behaling van baie lae inflasie, terwyl ekonomiese groei skynbaar nie een van die doelwitte is nie. Derhalwe is ’n verlaging van 25 basispunte die beste wat verbruikers kan verwag.”

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het al self vanjaar gesê die MBK is terdeë bewus daarvan dat ’n klein rentekoersverlaging nié alleen die ekonomie aan die brand kan skop nie.

Die Nedbank-ekonoom Isaac Matshego sê die trae groei is struktureel van aard, nie siklies nie, “so laer rentekoerse sal nie veel doen om groei aan te help sonder die risiko dat dit makro-ekonomiese wanbalanse aanvuur nie”.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, reken eers as Moody’s die vooruitsig vir Suid-Afrika se gradering terug verander in stabiel, sal die Reserwebank dit oorweeg om die rentekoers te verlaag.

Meer oor:  Rentekoers  |  Ekonomie  |  Inflasie  |  Rommelstatus  |  Kredietgradering  |  Rente  |  Afgradering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.