Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rentekoers: Nóg verligting vir mense met skuld

Die Reserwebank het Donderdag vir die vierde keer vanjaar die rentekoers verlaag.

Dié keer was die verlaging ’n halwe persentasiepunt. Al vyf lede van die monetêrebeleidskomitee (MBK) was ten gunste van ’n verlaging, maar twee lede wou net 25 basispunte hê.

Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Foto: Getty Images

Dit bring die totale verlaging in die rentekoers vir 2020 op 2,75 persentasiepunte te staan. Die repokoers is voortaan 3,75% en die prima rentekoers van banke 7,25%.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het in sy aanlyn nuuskonferensie opnuut beklemtoon dat die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperkings die wêreldekonomie ruk. Veral ontluikende lande loop erg deur omdat geld uit dié lande vloei te midde van ’n afkeer in risiko.

Buitelanders het vanjaar al ’n netto bedrag van R149 miljard se Suid-Afrikaanse bates verkoop.

Hy sê dis baie moeilik om die ekonomiese impak van die pandemie op Suid-Afrika se ekonomie akkuraat te voorspel. Die Reserwebank verwag dat werkloosheid skerp gaan styg.

Die Reserwebank se verwagting vir ekonomiese groei is nou -7%, teenoor die -6,1% wat in April voorspel is en net -0,2% wat middel Maart voorspel is. Weens die skerper inkrimping in 2020 word sterker groei nou in die volgende twee jaar voorspel. Vir 2021 word groei van 3,8% nou voorspel (April: 2,2%) en vir 2020 word 2,9% voorspel (April: 2,7%).

Die sentrale bank het sy verwagting vir inflasie ook verlaag tot net 3,4% vir 2020, teenoor April se verwagting van 3,6%. Dit beteken egter hoër inflasie word daarna voorspel. Vir 2021 is die verwagting tot 4,4% verhoog (April: 3,8%) en vir 2022 ook tot 4,4% (April: 4,2%).

Die Reserwebank verwag nie in dié stadium, soos sommige ekonome, dat inflasie tot onder sy teikenband (dus tot onder 3%) sal daal nie, maar dit kan vir ’n maand of twee wel gebeur, het Kganyago later in antwoord op ’n vraag gesê.

Die Reserwebank is nie bekommerd oor skerp stygings in kospryse plaaslik nie, maar wel oor kragtariewe, wat nou met meer gaan styg as wat voorheen voorspel is.

Die Reserwebank se kwartaallikse projeksiemodel het twee verlagings van 25 basispunte vir die res van die jaar voorspel, wat beteken geen verdere rentekoersverlagings word in dié stadium verwag nie.

Kganyago was, soos gewoonlik, eerlik daaroor dat die rentekoers nie ’n wonderkuur vir die ekonomie is nie.

“Monetêre beleid kan finansiële toestande verlig en die veerkragtigheid van huishoudings en maatskappye weens die ekonomiese implikasies van Covid-19 verbeter... Monetêre beleid op sy eie kan egter nie die potensiële groeikoers van die ekonomie verbeter of die fiskale risiko verminder nie.

“Dié dinge moet aangepak word deur die instelling van verstandige makro-ekonomiese beleid en strukturele hervormings wat koste in die algemeen verminder, en beleggingsgeleenthede, potensiële groei en werkskepping verhoog.”

Kganyago sê wêreldwye ekonomiese en finansiële toestande gaan vir die afsienbare toekoms wisselvallig bly.

Meer oor:  Lesetja Kganyago  |  Vlak 3  |  Vlak 4  |  Inperking  |  Covid-19  |  Reserwebank  |  Rentekoers  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Inflasie  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.