Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rentekoers vir eers onveranderd

Die rentekoers bly vir eers onveranderd, het die Reserwebank pas aangekondig.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. Foto: Denzil Maregele

Die sentrale bank se monetêrebeleidskomitee het eenparig gestem dat die rentekoers nie weer verlaag word nie. Dis in Julie met 0,25 van ’n persentasiepunt verlaag, die eerste verlaging in 2019.

Daarby lyk dit nie asof die rentekoers binne die afsienbare toekoms verlaag gaan word nie, volgens die Reserwebank se kwartaallikse projeksiemodel.

Die Reserwebank het sy verwagting vir inflasie vir 2019 verlaag tot net 4,2%, vanaf Julie se voorspelling van 4,4%. Die verwagting vir 2020 is onveranderd op 5,1% en vir 2021 is effens hoër op 4,7% (Julie: 4,6%).

Die boonste draaipunt van inflasie gaan na verwagting 5,3% in die eerste kwartaal van 2020 wees.

Dit beteken inflasie gaan vir minstens die volgende twee jaar binne die Reserwebank se teikenband van 3% tot 6% bly, maar Kganyago het weer beklemtoon dat hy dit teen 4,5% geanker wil sien.

Die Reserwebank se verwagting vir ekonomiese groei vir vanjaar bly onveranderd op ’n tam 0,6%, maar die verwagting vir 2020 en 2021 is verlaag. Dis nou onderskeidelik 1,5% en 1,8%, teenoor die 1,8% en 2% wat in Julie voorspel is.

Kganyago het kommer uitgespreek oor wêreld- ekonomiese groei, wat al hoe traer word, onder meer weens handelspanning. 

Risko’s vir inflasie wat in die vooruitsig gestel word, is stygende brandstofpryse, kragtariewe en kospryse.

Die Reserwebank is ook oor die staat se geldsake bekommerd. “Die staatsektor se behoeftes aan finansiering bly hoog, wat druk op die geldeenheid plaas en plaaslike effektekoerse hoër druk relatief tot soortgelyke lande. Die inwerkingstelling van gesonde makro-ekonomiese beleid en strukturele hervormings wat koste verlaag en investering en potensiële groei verhoog, bly dringend.”

In vraetyd het Kganyago laat blyk dat hy nie té bekommerd is oor Moody’s Investors Service se graderingsbesluit in November nie. Daar word alom verwag dat Moody’s die vooruitsig vir Suid-Afrika se gradering van stabiel na negatief sal verander voordat die land tot rommelstatus afgegradeer word.

Meer oor:  Lesetja Kganyago  |  Inflasiekoers  |  Reserwebank  |  Rentekoers  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Inflasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.