Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rentekoers: Wat ekonome Donderdag verwag

Met inflasie in bedwang, reken talle ekonome die Reserwebank kan met ’n geruste hart Donderdag die rentekoers verlaag.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, kondig Donderdagmiddag in Pretoria die monetêrebeleidskomitee (MBK) se tweede laaste rentekoersbesluit vir die jaar aan.

k

Byna die helfte (45%) van die ekonome wat Dinsdag aan Netwerk24 se peiling deelgeneem het, verwag dat die rentekoers met 0,25 van ’n persentasiepunt verlaag gaan word. Die MBK het ook in Julie die rentekoers verlaag.

Almal wat ’n verlaging voorspel, verwag net 0,25 van ’n persentasiepunt. Dit sal die repokoers (waarteen die Reserwebank geld aan banke leen) op 6,25% te staan bring en banke se prima rentekoers op 9,75%. Dit sal die laagste koerse wees sedert November 2015.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za, verwag selfs nou ’n verlaging én weer einde November, wanneer die MBK sy laaste rentekoersbesluit van 2019 neem.

Die meerderheid ekonome (55%) verwag egter dat die Reserwebank eers sal wag en kyk – onder meer tot ná Tito Mboweni, minister van finansies, se mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR) in Oktober en Moody’s Investors Service se kredietgraderingsbesluit op 1 November.

Lucie Villa, Moody’s se ontleder vir Suid-Afrika, het vroeër die maand gesê dit sal uiters ongewoon wees as Moody’s Suid-Afrika afgradeer terwyl die vooruitsig nog stabiel is. Die vooruitsig word in die meerderheid gevalle eers in negatief verander, waarna ’n land ’n volslae afgradering kan verwag. Moody’s is die enigste groot kredietgradeerder wat Suid-Afrika nog op beleggingsgraad handhaaf.

Dawie Klopper, beleggingsekonoom van PSG Wealth, verwag ’n verlaging in die rentekoers. “Inflasie is laer as wat vroeër vanjaar verwag is en dit skep ruimte om koerse te verlaag. Verder is die res van die wêreld ook besig om koerse te verlaag.”

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za, verwag nog twee rentekoersverlagings vanjaar. Foto: Wikus de Wet

Klopper sê die MBK is waarskynlik bekommerd oor die wisselvallige rand, wat ’n regstreekse impak op inflasie het. “Ek dink as die Reserwebank te versigtig is (en rentekoerse onveranderd laat), kan die rand in elk geval verswak. Indien die bank tog koerse verlaag, sal dit as effens pro-groei gesien word en kan dit lei tot matige randsterkte, aangesien die buiteland agter die effens beter groei aan in Suid-Afrika sal kom belê.”

Thea Fourie, senior ekonoom vir Afrika suid van die Sahara van IHS Markit, sê daar is te veel internasionale en plaaslike onsekerhede wat ’n impak op die rand kan hê. Daarom verwag sy nie ’n verlaging nie. “Dit sluit in Brexit, deurlopende onsekerhede oor China en Amerika se handelsoorlog, olieprys-verwikkelinge ná die aanval op Saoedi-Arabië se olieproduksie-geriewe en natuurlik die uitkoms van die MTBR en Moody’s se kredietbesluit.”

Fourie sê hoe Eskom se probleme opgelos gaan word, sal ook vir die Reserwebank ’n bron van kommer bly.

Johan Willemse, ekonoom van Agrimark Consultants, verwag dat die rentekoers onveranderd gelaat gaan word: “Hoewel die inflasiekoers gemaklik binne die teikenband is, het wêreld- ekonomiese risiko’s en inflasierisiko aansienlik toegeneem ná die aanvalle en ontwrigting van wêreldoliemarkte.

Hy sê die Reserwebank is ook terdeë daarvan bewus dat laer rentekoerse nie die ekonomie aan die brand kan skop terwyl die land “groeidempende ekonomiese beleid” het nie. Kganyago verwys nou al jare lank na die strukturele probleme in die ekonomie wat nié met monetêre beleid reggedokter kan word nie.

Abri du Plessis, portefeuljebestuurder en ekonoom by Gryphon Batebestuur, sê inflasie is waarskynlik nou by sy onderste draaipunt. Die Reserwebank kyk lank vooruit na inflasieneigings en gaan dit in ag neem. Dis waarom hy nié ’n laer rentekoers verwag nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.