Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rentekoers: Wat ekonome Donderdag verwag
Die Reserwebank gaan waarskynlik Donderdag die rentekoers onveranderd hou, reken die meeste ekonome. Grafika: iStock

Die Reserwebank moet voldoen aan sy mandaat en die rentekoers verlaag.

k

Dís die standpunt van Lumkile Mondi, senior lektor in die ekonomie aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), wat sommer ook die dapper voorstel maak dat die monetêrebeleidskomitee (MBK) die rentekoers Donderdag met 0,5 van ’n persentasiepunt verlaag.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, kondig Donderdag net ná 15:00 in Pretoria die MBK se eerste besluit oor die rentekoers vir 2020 aan. Die rentekoers is in 2019 net een keer verlaag, in Julie. Die Reserwebank se repokoers, waarteen hy geld aan banke uitleen, is nou 6,5% en banke se prima rentekoers vir kliënte is 10%.

Mondi sê die vooruitsig vir groei en werkskepping is droewig en verbruikers is onder druk. Eskom gaan na sy mening verdere werkverliese veroorsaak. Daarby blyk inflasie “nog nie ’n bekommernis” te wees in Suid-Afrika nie.

Mondi is een van slegs drie ekonome uit die tien wat aan Netwerk24 se peiling deelgeneem het, wat reken die MBK sal die rentekoers verlaag.

Prof. Jannie Rossouw, tussentydse hoof van Wits se sakeskool, sê ook die tyd vir laer rentekoerse is hier. “Die inflasiekoers (3,6% in November) is laer as die teiken wat die sentrale bank gebruik (4,5%). Dit is ook die verwagting dat die inflasiekoers in 2020 laer as die teiken gaan bly, wat ruimte laat vir ’n verlaging in die rentekoers.”

Koos Coetzee, onafhanklike landbou-ekonoom, beaam dit en sê inflasie is laag sowel op verbruikers- as produsentevlak.

Rossouw en Coetzee verwag nie dat die Reserwebank die koers met meer as 0,25 van ’n persentasiepunt sal verlaag nie.

Ondanks dié minderheidstemme meen 70% van die ekonome wat aan die peiling deelgeneem het dat die MBK die rentekoers onveranderd sal laat.

4 risiko’s vir inflasie

Faktore wat die Reserwebank volgens ekonome kan verhinder om die rentekoers te verlaag, sluit in:

  • ’n Verwagte skerp styging in kospryse.
  • Die verwagte afgradering deur Moody’s Investors Service.
  • Onsekerheid oor die styging in kragtariewe (wat ’n invloed op inflasie het) in die lig van Eskom se talle hofsake teen die tariefverhogings wat die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) toegestaan het.
  • Tito Mboweni, minister van finansies, se begrotingsrede in Februarie. Dit sal toon hoe die begrotingstekort lyk, asook die styging in die staatsdiens se salarisrekening.

Dawie Klopper, beleggingsekonoom van PSG Wealth, sê: “In normale omstandighede sou rentekoerse gesny kon word, maar omstandighede is nie normaal nie.”

Dennis Dykes, hoofekonoom van Nedbank, sê verskeie onlangse ontwikkelinge maak ’n saak uit vir meer akkommoderende monetêre beleid. Dit sluit in die verrassend lae inflasiekoers, die feit dat oliepryse weer gedaal het ondanks die konflik tussen die VSA en Iran, die relatief stabiele rand en trae ekonomiese groei.

Ekonomiese groei

Die MBK sal ook Donderdag sy verwagting vir ekonomiese groei vir die volgende drie jaar uitlig. Die Wêreldbank het onlangs sy verwagting vir ekonomiese groei vir 2020 tot 0,9% afgeskaal. In November het die Reserwebank nog 1,4% vir die jaar voorspel.

Klopper sê ’n belangrike vraag is of die minister van finansies “sy sin gaan kry oor die hervorming van die ekonomie, want as hy dit nié kry nie, kan dit die ekonomie verder onder druk plaas”.

Ondanks die lae groeiverwagting, meen Dykes kommer oor die land se verswakkende fiskale posisie en die implikasies daarvan vir Moody’s Investors Service se kredietgradering einde Maart sal Kganyago en sy span keer om die rentekoers nou te verlaag.

Fanie Brink, onafhanklike landbou-ekonoom, sê dis nou “weer eens duidelik bewys dat die swak ekonomiese groeikoers, lae inflasiekoers en die verstewiging in die waarde van die geldeenheid nie die gevolg van hoër rentekoerse was nie, maar baie eerder van verskeie plaaslike en internasionale politieke en ekonomiese faktore wat ’n invloed op die vraag na en aanbod van goedere en dienste, sowel as die wisselkoers, respektiewelik, het.”

Rentekoerse speel dus nie so ’n belangrike rol in die ekonomie soos wat algemeen aanvaar word nie.
Fanie Brink, ekonoom

Hy sê dis “totaal verkeerd om te aanvaar dat laer rentekoerse die ekonomie kan stimuleer, die inflasiekoers kan beheer en die wisselkoers kan beskerm”: “Rentekoerse speel dus nie so ’n belangrike rol in die ekonomie soos wat algemeen aanvaar word nie.”

Die Reserwebank het self in Julie gewaarsku dat die verlaging in die rentekoers nie ’n kitsoplossing vir ekonomiese groei is nie en dat diepliggende strukturele probleme opgelos moet word om groei en werkskepping te bewerkstellig.

Desondanks is ekonome diep bekommerd oor ekonomiese groei. Die MBK sal ook bekommerd wees oor beurtkrag en die invloed daarvan op Suid-Afrika se ekonomiese groei oor die volgende twee jaar, sê Thea Fourie, senior ekonoom vir Afrika suid van die Sahara by IHS Markit.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, reken die rentekoers sal onveranderd gelaat word omdat daar ’n groot risiko is dat inflasie weer gaan styg.

Bishop wys daarop dat kosprysinflasie van dubbelsyfers in 2016 (by die 17%) tot minder as 3% geval het. “Mens kan nie daarop staatmaak dat dié tendens sal voortduur en inflasie matig of selfs onveranderd sal hou nie. Wisselvalligheid in Suid-Afrika se langtermyn-inflasietrajek is waarskynlik omdat die waterskaars land baie geneig is tot droogte.”

Kos verteenwoordig nagenoeg 20% van die inflasiemandjie.

Mike Schüssler van Economists.co.za wys daarop dat die huidige lae inflasiekoers ’n baie lae basis skep, wat ’n skerp styging in die inflasiekoers makliker maak.

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.