Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rentekoers: Wat jy Donderdag kan verwag (en hoekom)

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, kondig Donderdagmiddag in Pretoria die monetêrebeleidskomitee (MBK) se tweemaandelikse besluit oor die rentekoers aan vanuit ’n goeie magsposisie.

Die rentekoers gaan waarskynlik Donderdag verlaag word. Grafika: iStock

Pres. Cyril Ramaphosa het pas bevestig dat Kganyago vir ’n tweede termyn aangestel word nadat daar onsekerheid was oor wat sy lot gaan wees. Sy eerste termyn loop in November ten einde.

Al 19 van die ekonome wat aan Netwerk24 se peiling deelgeneem het, verwag dat die MBK die rentekoers gaan verlaag.

Isaac Matshego, ’n Nedbank-ekonoom, sê beter as verwagte inflasiesyfers en ’n fermer rand “het ruimte vir ’n besnoeiing geskep”.

Daar is egter ’n probleem: As die rentekoers wel verlaag word, gaan dit lyk asof Kganyago nie net op ekonomiese faktore reageer nie, maar toegegee het aan politieke druk.

Dis in die lig van die omstrede eise die afgelope jaar dat die Reserwebank se mandaat verbreed word en dat die bank gebruik word om ekonomiese groei te bevorder deur die rentekoers te verlaag, ongeag die invloed daarvan op inflasie.

Verskeie ekonome verwys na dié dilemma.

Prof. Johan Willemse, ekonoom van AgrimarkConsultants, sê die rentekoers moes eintlik al ses maande gelede verlaag gewees het: “Die MBK het te lank gewag en dit gaan nou lyk asof hulle onder algemene druk swig!”

Hoewel Dawie Klopper, beleggingsekonoom van PSG Wealth, wel verwag dat die rentekoers verlaag gaan word, sê hy: “Ek dink dat die Reserwebank juis versigtiger gaan wees omrede hulle hul onafhanklikheid van hierdie politieke druk wil herbevestig.”

Met hoeveel – en hoekom?

18 van die 19 ekonome verwag dat die rentekoers met slegs 0,25 van ’n persentasiepunt verlaag gaan word. Dit sal die repokoers op 6,5% te staan bring en die prima rentekoers van banke op 10%.

Een ekonoom, Thea Fourie van IHS Markit, reken daar is ruimte vir ’n verlaging van 0,5 van ’n persentasiepunt. Sy sê dit sal ’n aanduiding wees dat die Reserwebank baie seker voel oor die mediumtermynvooruitsig vir inflasie.

Chris Harmse, ekonoom van Rebalance Fund Managers, sê die bank sal nie met meer as 0,25 van ’n persentasiepunt wil verlaag “totdat daar meer duidelikheid kom oor VSA-rentekoerse en die inflasiekoers vorentoe nie”.

Prof. Jannie Rossouw, hoof van die skool vir ekonomiese en sakewetenskappe, sê: “Die moderne neiging is vir sentrale banke om rentekoersverlagings in klein inkremente aan te kondig.”

Willemse sê so ’n klein verlaging sal help om verbruikersbesteding, en dus die ekonomie, te stimuleer. Hy twyfel egter of dit investering gaan bevorder: “Die beleidsomgewing en politieke speletjies skep groot onsekerheid.”

Die onafhanklike ekonoom Koos Coetzee wys op die risiko dat die laer rentekoers meer geld landuit kan laat vloei. Dit sal die rand laat verswak, wat op sy beurt inflasie skerper kan laat styg. Dis bes moontlik een van die redes waarom die kleinste moontlike koersverlaging aangekondig sal word.

Wat die Reserwebank behoort te bekommer

Waaroor dink jy lê Kganyago waarskynlik wakker? Hier is ’n paar ekonome se antwoord op dié vraag:

  • Prof. Carel van Aardt, navorsingsdirekteur van Unisa se Buro vir Marknavorsing: “Die invloed van ekonomiese stagnasie op armes en hoe om wegholinflasie te keer wat die armes baie hard kan tref, en wat op sy beurt tot politieke en finansiële onstabiliteit aanleiding kan gee.”
  • Isaac Matshego, Nedbank-ekonoom: “Die bedryfs- en finansiële stabiliteit van sommige kernbelangrike staatsondernemings, en hul invloed op die ekonomie, kan die ekonomie seermaak en die rand onder druk plaas. Dit kan tot nog ’n kredietafgradering lei. So ’n scenario sal die vooruitsig vir die rentekoers ingewikkelder maak.”
  • Prof. Jannie Rossouw, hoof van die skool vir ekonomiese en sakewetenskappe: “Is daar enige inflasieskokke wat tans nie voorsien kan word nie en tot ’n versnelling in inflasie met die noodsaak vir hoër rentekoerse kan lei?”
  • Dawie Roodt, ekonoom van Efficient Group: “Politiek en veral die fiskale rekeninge en waarskynlike afgradering.”
  • Sanisha Packirisamy, ekonoom van Momentum Investments: “ ’n Negatiewe verskuiwing in sentiment jeens ontluikende markte, moontlik begin deur die intensifisering van wêreldwye handelsoorloë, wat tot ’n volgehoue verswakking in die rand kan lei en inflasieverwagtinge kan laat styg.”
  • Prof. Johan Willemse, ekonoom van AgrimarkConsultants: “Sekerlik staatsverwante prysstygings wat nie met rentekoerse beheer kan word nie en die swak beleidsomgewing wat die rand riskant hou.”
  • Thea Fourie, ekonoom van IHS Markit: “Wat gaan die Federale Reserweraad in die VSA se rentekoersverloop wees vir die res van die jaar? Wat gaan gebeur met Eskom se herstruktureringsplanne en wat gaan dit beteken vir die owerheid se skuldvlakke? Hoe gaan Moody’s reageer op die Eskom-verwikkelinge? Wat gaan gebeur met voedselpryse in komende maande?”
Meer oor:  Lesetja Kganyago  |  Inflasiekoers  |  Reserwebank  |  Rentekoers  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Inflasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.