Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rentekoers: Reserwebank luier dalk vir eers

Die Reserwebank gaan dalk vir eers net die rentekoers-bus uit rat uit laat staan en luier, maar mense met skuld moenie houtgerus raak nie. ’n Rentekoersverhoging is steeds ’n risiko oor die volgende jaar of wat.

Die Reserwebank se gebou in die middestad van Pretoria.

Teen Dinsdag (21 Mei) het 85% van die ekonome wat aan Netwerk24 se peiling deelgeneem het, verwag die repokoers gaan onveranderd bly. 15% voorspel dat die rentekoers verlaag gaan word. Die uitslag sal tot volgende Woensdag bygewerk word.

Lullu Krugel, PwC se hoofekonoom vir Afrika, en Christie Viljoen, ekonoom, waarsku egter in ’n navorsingsartikel dat die risiko’s vir inflasie op die oomblik hoog is.

Alle oë sal gevolglik wees op die kwartaallikse projeksiemodel van die Reserwebank – die model wat die pad van die repokoers op mediumtermyn uitstippel gegrond op die monetêrebeleidskomitee (MBK) se verwagtinge van sekere veranderlikes.

Die projeksiemodel het in Maart voorspel dat die repokoers voor die einde van 2019 met 0,25 persentasiepunt gaan styg. Die Reserwebank het in November verlede jaar vir die eerste keer in 33 maande (sedert Maart 2016) die repokoers verander. Toe is dit egter verlaag.

Die meeste ekonome verwag tans dat die repokoers eers teen 2020 verhoog gaan word, nie later vanjaar nie.

Die aankondiging oor die repokoers kom op Donderdag 23 Mei, net dae voordat pres. Cyril Ramaphosa op 25 Mei as president ingehuldig word. Dit lui sy eerste volwaardige termyn in sedert oudpres. Jacob Zuma begin verlede jaar heel onwillig sy kantoor in die Uniegebou ontruim het.

Krugel en Viljoen verwag dat Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, ’n waarskuwing aan Ramaphosa se nuwe administrasie gaan rig dat monetêre beleid nie die “spil kan wees waarom die stimulering van die ekonomie draai nie”. Anders gestel: Die Reserwebank gaan nie die repokoers verlaag om ekonomiese groei te probeer aanwakker terwyl inflasie besig is om te styg nie.

Die ekonomie het inderdaad stimulering nodig, soos blyk uit droewige ekonomiese syfers – van werkloosheid tot kleinhandelverkope – wat die afgelope week uitgereik is.

Die gaping tussen ekonomiese groei en die reële prima rentekoers is aan die styg – en dit is opmerklik dat die gaping al hoe groter geword het onder Kganyago, welbekend as ’n monetêre valk, se leiding.
Dr. Roelof Botha

Kganyago wys sedert Julie 2018 op elke nuuskonferensie ná die MBK se tweemaandelikse vergadering daarop dat die Reserwebank wil hê inflasie moet op 4,5% geanker word – in die middel van die teikenband van 3% tot 6%. Die repokoersbesluit gaan dus nie net daarvan afhang of inflasie tot bo 6% gaan styg nie, maar of dit bo 4,5% gaan styg, en die risiko daarvoor is baie hoog. Inflasie was in Maart 4,5%, met onder meer petrol en stapelvoedsel soos brood wat dit oor die volgende tyd kan opdruk.

Kganyago sal na verwagting weer verwys na die skerp styging in kragpryse. Die nasionale energiereguleerder (Nersa) het ’n styging van altesame 13,8% goedgekeur in die kragtariewe wat Eskom hef op munisipaliteite, groot ondernemings en verbruikers wat krag regstreeks van die nutsmaatskappy koop.

Munisipaliteite gaan eersdaags die styging aankondig wat huishoudings in Julie sal moet absorbeer.

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, beweer daar is druk op munisipaliteite om hul tariewe met 15,6% te verhoog, maar Nersa ontken dit.

Dr. Roelof Botha, vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie, het Woensdag op Old Mutual Wealth se adviesforum vir finansiële beplanners te velde getrek teen die Reserwebank se inflasie-beheptheid te midde van trae ekonomiese groei.

Botha, wat al minstens twee jaar lank pleit dat die repokoers verlaag word, sê die gaping tussen ekonomiese groei en die reële prima rentekoers is aan die styg – en dit is opmerklik dat die gaping al hoe groter geword het onder Kganyago, welbekend as ’n monetêre valk, se leiding.

Kganyago het in November 2014 die leisels by Gill Marcus oorgeneem toe sy afgetree het.

In Maart het Botha in ’n Sakesiening-rubriek vir Netwerk24 geskryf die MBK het ’n “gulde geleentheid verspeel om die ekonomiese regrukproses van Ramaphosa te vergemaklik en te ondersteun, maar hou krampagtig aan ’n reële rentekoers vas wat meer as 100% hoër is as in Marcus se ampstermyn”.

roelof botha
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.