Pres. Cyril Ramaphosa “moet die ruimte gegee word” om self te besluit wie hy as president van die Reserwebank wil aanstel.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. Foto: Reuters
Dis al wat Lesetja Kganyago, wie se eerste termyn as hoof van die sentrale bank in November verstryk, wou antwoord op die vraag of hy bereid is om langer in die pos te dien.
Kganyago wou ook nie sê of ’n nuwe adjunkpresident al aangewys is en of Daniel Mminele, wie se termyn in Junie verstryk, ’n tweede termyn gaan dien nie.
Hy het egter soos voorheen die versekering gegee dat die Reserwebank onafhanklik bly en dat dié onafhanklikheid in die Grondwet verskans is.
Ontleders het die feit dat die rentekoers onveranderd gelaat is, geïnterpreteer as ’n teken dat die sentrale bank nie onder enige politieke druk geswig het om die rentekoers te verlaag nie.
Jacques Celliers, uitvoerende hoof van FNB, sê die Reserwebank se konsekwentheid om sy primêre mandaat te handhaaf, is ’n “groot voorsprong vir ons ekonomiese herlewing”. Dit dra by tot die herstel van vertroue in die ekonomie.
Intussen is die vakature in die monetêrebeleidskomitee (MBK) wel gevul. Dr. Chris Loewald, tans hoof van beleidsontwikkelinng en navorsing by die Reserwebank, word op 1 Junie die sesde lid van die MBK.
Hy is al agt jaar by die Reserwebank en was voor dit 13 jaar by die tesourie. Hy was betrokke by die ontwikkeling van Suid-Afrika se inflasieteikenbeleid en was in die tesourie nou betrokke by die begrotingsproses en die ontwikkeling van ekonomiese beleid.
Loewald het grade van onder meer die London School of Economics en Johns Hopkins-universiteit.