Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Reserwebank-debat: 5 dinge wat jy moet weet

Die nuwe bohaai oor die Reserwebank se rol skep onsekerheid in finansiële markte en het bygedra tot die verswakking van die rand-dollar-wisselkoers tot onder R15. Maar waaroor gaan dit eintlik en hoe raak dit gewone verbruikers?

  

Pedestrians pass the headquarters of the South Afr
Die bohaai oor die Reserwebank se rol skep onsekerheid in finansiële markte. Foto: Getty Images

   

1. Waaroor baklei hulle?

  

Dit het kophou soos ’n dronk weeluis gekos om te onthou wie wat gesê het – en wie sal ooit die waarheid weet?

Daar was verlede naweek ’n lekgotla van die ANC se nasionale uitvoerende komitee. Maar dalk was daar ’n mini-lekgotla tydens die lekgotla, blyk dit.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het op ’n mediakonferensie gesê op die lekgotla is besluit die Reserwebank se mandaat moet uitgebrei word. Die sentrale bank moenie net op inflasieteikens fokus nie, maar ook op werkskepping en ander sosio-ekonomiese doelwitte. Hy het ook gesê ’n taakspan word oorweeg om kwantitatiewe verruiming te ondersoek.

Lees ook: Kwantitatiewe verruiming: Hoekom die herrie?

Toe bars alle hel los, want Enoch Godongwana, die ANC se hoof van ekonomiese beleid, ontken dat so iets ooit besluit is; Tito Mboweni, minister van finansies, raas oor mense se obsessie met die Reserwebank terwyl sy mandaat tog in die Grondwet verskans is; en Cosatu juig, ja, hulle wil graag die Grondwet verander sien sodat die Reserwebank gedwing word om weg te skuif van sy inflasie-fiksasie.

Uiteindelik het pres. Cyril Ramaphosa self Donderdag toegetree en spesiaal ’n verklaring uitgereik dat daar nie sprake is van ’n verandering aan die Reserwebank se mandaat nie.

Lees ook: Reserwebank se beleid het nié verander, sê Cyril

Sommige ontleders meen dis alles net politieke geraas, bloot deel van sekere ANC-leiers wat nie mooi in die sandput die speelgoed deel nie, óf ’n magspel met die EFF wat verlede jaar ’n wetsontwerp ingedien het wat voorstel dat die Reserwebank “genasionaliseer” word.

  

2. Hoe raak dit jou?

   

Die debakel raak verbruikers tans via die uitwerking wat dit op die wisselkoers het. Maar dis ’n reuse-uitwerking.

Die swakker rand gaan die prys van alles wat ingevoer word duurder maak, dus van die petrolprys tot die koste van die onderdele vir jou stukkende DeLonghi-koffiemasjien of die skaars boek of DVD wat jy uit Amerika wil bestel. Om nie te praat nie van jou vakansiebegroting vir die besoek aan Spanje volgende week nie, want jy het nagelaat om euro’s te koop voordat die rand begin verswak het.

  

3. Wat doen die Reserwebank?

   

Die Reserwebank is as’t ware ’n land se allerlaaste spaarvarkie. Dit bestuur die geldvoorraad wat in omloop is in die plaaslike ekonomie, en het vir daardie doel reserwes in rand, dollar en goud.

Dit dien ook as uitlener van laaste uitweg vir handelsbanke. Die handelsbanke leen geld by die Reserwebank teen ’n interbankkoers, wat die repokoers genoem word. Die repokoers is dan waarop die banke hul kommersiële rentekoerse grond waarteen hulle geld aan maatskappye en verbruikers leen om huise, motors en wat nog te koop.

Die repokoers bepaal effektiewelik die koste van geld. ’n Hoë rentekoers beteken geld is duur. ’n Lae rentekoers beteken geld is goedkoop.

  

4. Wat is die Reserwebank se mandaat?

   

Die Grondwet sê die Reserwebank moet die waarde van die rand beskerm. As die Reserwebank dit nie doen nie, kan hiperinflasie ontstaan, soos in Zimbabwe, waar dit veroorsaak het dat die Zimbabwiese dollar niks werd is nie.

Die Reserwebank doen dit deur ’n spesifieke mandaat aan sy monetêrebeleidskomitee te gee wat elke twee maande vergader om te besluit of hy aan die repokoers moet peuter of nie.

Tans is die komitee se mandaat om verbruikersprysinflasie binne ’n band van 3% tot 6% te hou. As inflasie te hoog raak, sal die bank die repokoers verhoog om geld duurder te maak sodat mense minder bestee, wat tot stadiger prysstygings kan lei, wat inflasie verlangsaam.

As inflasie afneem, kan die bank die repokoers verlaag, wat geld goedkoper maak en mense dus aanspoor om meer te bestee, wat pryse weer laat styg en inflasie opdruk.

Lees ook: Reserwebank: 'Regering moet hom skaam'

Die bank probeer dié speletjie matig speel sodat daar merendeels ’n balans is, want die sakesektor verkies stabiliteit sodat hulle beter kan beplan.

Wat Cosatu, die EFF en die linkses in die ANC wil hê, is dat die bank nie so in inflasie moet vaskyk nie. Hy moet volgens hulle dus ongeag inflasie die repokoers verlaag om die ekonomie te stimuleer, en sodat dit makliker is vir swart nyweraars en opkomende entrepreneurs om lenings te kan bekostig vir die uitbou van ondernemings wat werk kan skep.

  

5. Wat kan dan skeefloop?

   

Laer rentekoerse klink opsigself hemels, want wie sukkel nie met knaende kredietkaartskuld of ’n lastige huisverband nie?

Maar ’n afwyking van die Reserwebank se huidige mandaat kan enigiets beteken van ’n opdrag om bloot net nog geldnote te druk, tot ’n plundery van die Reserwebank se enorme reserwes deur staatskapers, of vir wanbesteding aan vrugtelose staatsprojekte.

Die blote idee van ’n getorring aan die Reserwebank se onafhanklikheid en gevestigde funksionering het ’n impak op internasionale beleggersvertroue. Dit kan die kredietgraderingsagentskap Moody’s oortuig om Suid-Afrika soos sy eweknieë ook tot rommelstatus af te gradeer, wat tot die uitvlug van nog beleggingsgeld uit die land sal lei.

Internasionale banke sal hul aptyt verloor om aan die regering of aan Eskom geld te leen. Dit sal tot ’n verdere verswakking in die rand lei wat bydra tot die bose kringloop van hoër inflasie en duurder brandstof wat ekonomiese groei knou.

  • Dié verduideliking in leketaal is nie bedoel om alle nuanses van monetêre beleid te probeer saamvat nie. Daar is ekonome wat reken dié tradisionele monetêre beleid – wat 99% van die wêreld se sentrale banke onderskryf – is suiwer snert. Ander redeneer inflasieteikens is minder doeltreffend in ’n klein ekonomie soos Suid-Afrika, want die Reserwebank het geen beheer oor byvoorbeeld internasionale oliepryse of die klimaat (en dus kospryse) nie.
  • Francois Williams is ’n senior sakeverslaggewer van Netwerk24.
Meer oor:  Rentekoers  |  Ekonomie  |  Monetêre Beleid  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.