Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Reserwebank het geen towerstaf vir ekonomie

Die 100ste jaarvergadering van die Reserwebank vind plaas terwyl die wêreld “een van die mees ontwrigtende en uitdagendste krisisse” nóg beleef.

Tito Mboweni, minister van finansies, met Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, in die agtergrond. Mboweni is self ’n voormalige president van die Reserwebank.

Dis egter nou tyd om kop te hou en te fokus op verstandige monetêre én makro-ekonomiese beleid, het Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, Vrydagoggend gesê.

“Soos ons deur dié Covid-19-storm navigeer, sal die Reserwebank aanhou om sy werktuie te gebruik, soos toepaslik, in pas met sy mandaat, om die ekonomie te ondersteun.

“Dis nie ’n tyd om wanhopig te raak nie. Dis ook nie ’n tyd om beleid of instrumente te waag wat al in die ekonomiese geskiedenis misluk het nie. Daar is moeilike keuses was ons as samelewing moet maak.”

Kganyago het in sy toespraak verwys na debatte oor die rol en mandaat van die Reserwebank, maar soos voorheen beklemtoon die Reserwebank alleen kan nie die ekonomie red nie.

Hy het Tito Mboweni, minister van finansies, aan die einde van die jaarvergadering lof toe geswaai vir sy steun aan die onafhanklikheid van die Reserwebank. Hy het ook gesê Mboweni, as voormalige president van die Reserwebank, verstaan monetêre beleid en dit help om hom by die tesourie te hê.

Dis nie ’n tyd om wanhopig te raak nie. Dis ook nie ’n tyd om beleid of instrumente te waag wat al in die ekonomiese geskiedenis misluk het nie.
Lesetja Kganaygo van die Reserwebank

Oor die rol van die Reserwebank het Kganyago in sy toespraak gesê: “Om ons ekonomie op ’n gesonde en volhoubare groeipad te plaas, staan die Reserwebank gereed om die ekonomie binne sy mandaat te ondersteun. Laer langtermyninflasie-uitkomste is belangrik om koopkrag vol te hou, lewenskoste en die koste van sake doen te beperk, en ons ekonomie se wêreldwye mededingendheid te ondersteun.

“Soos ons egter al in die verlede aangedui het, kan die potensiële groeikoers van die ekonomie nie net aan die sentrale bank oorgelaat word nie. Tesame met verstandige makro-ekonomiese beleid en strukturele hervormings, kan laer kapitaalkoste groei in langtermyn-investering ondersteun. Die herstel van die Suid-Afrikaanse ekonomie vereis ’n veelsydige beleidsbenadering.”

Kganyago sê die heropening van handelskanale wêreldwyd sal baie belangrik vir Suid-Afrika as ’n klein, oop ekonomie wees. “As beleidmakers moet ons egter verseker dat ons ekonomie goed geplaas is om voordeel te trek uit verbeterende wêreldtoestande.”

Hy het die maatreëls herhaal wat die Reserwebank in werking gestel het om die ekonomie te help ondersteun, insluitend die verlaging van die rentekoers en van die koers waarteen banke geld by die Reserwebank leen.

Aandeelhouers sê

Mike Brown, uitvoerende hoof van Nedbank, het as verteenwoordiger van aandeelhouers sy dank uitgespreek dat die Reserwebank so vinnig opgetree het om die finansiële sektor en verbruikers met skuld te ondersteun. Hoewel Brown die ingryping verwelkom sê hy net betekenisvolle strukturele hervorming kan Suid-Afrika se beleggingsbestemming aantrekliker maak en só ekonomiese groei stimuleer en werk help skep. “Onvoldoende vordering” is daarmee gemaak, sê Brown.

Die Reserwebank verwag dat inflasie vanjaar gemiddeld 3,4% gaan beloop, en dan in 2021 en 2022 tot 4,3% gaan styg. Dié gunstige vooruitsig het die ruimte geskep om die rentekoers met 3 persentasiepunte te verlaag, 2,75 daarvan ná die Covid-19-uitbreking in die land.

Kganyago sê die verlaging in die rentekoers “speel ’n belangrike rol om verlore inkomste te vervang”.

“Die verslapping van sekere regulasies het banke in staat gestel om huishoudings en ondernemings deur voortgesette lenings te ondersteun, tesame met die regering se leningswaarborgskema.”

Kganyago gee toe dat dit moeilik is om te bepaal in watter mate die Reserwebank se ingrypings wel die ekonomie ondersteun, maar sê groter likiditeit op geldmarkte dui daarop dat sy effekte-aankope wel gehelp het.

Ekonomie

Die Internasionale Monetêre Fonds verwag nou dat die wêreldekonomie in 2020 met 4,9% gaan inkrimp, en die pyn word wyd gevoel – 93% van lande gaan volgens die Wêreldbank vanjaar inkrimp.

In Suid-Afrika het die krisis gekom terwyl die land reeds in ’n resessie was. Die afgelope drie kwartale was kwartaalgroei onderskeidelik -0,8%, -1,4% en -2%, laasgenoemde in die eerste kwartaal van die jaar, nog voordat die impak van die inperking uitgespeel het.

“Dis weens die laer uitvoervraag, swak sakevertroue en investering en die terugkeer van beurtkrag.”

“Hoewel BBP-data vir die tweede kwartaal nog nie beskikbaar is nie, is daar voldoende getuienis om te bevestig dat die inperking ekonomiese bedrywighede verlam het. Mynbou- en vervaardigingsproduksie het byvoorbeeld van Maart tot April met 37% en 44% geval. En hoewel daar tekens van herstel in sommige sektore is, heers baie onsekerheid nog.

“Die Covid-19-uitbreking het enorme gesondheids-, maatskaplike en ekonomiese impakte wat voorspelings uitdagend maak.”

Die Reserwebank voorspel negatiewe groei van 7,3% in 2020. Die vorige daling van dié omvang was tydens die Groot Depressie in 1931, toe die ekonomie met 6,2% ingekrimp het.

Suid-Afrika het in Maart en April ’n skerp styging in kapitaaluitvloei beleef en die rand het erg verswak. Tussen Februarie en April het die rand met 22% verswak. Die rentekoers wat die regering op staatseffekte moes betaal, het met twee persentasiepunte gestyg.

“Hoewel baie van dié bewegings grootliks omgekeer is, bly kapitaalinvloei minder as dié van ons eweknieë in ontluikende lande.

“Die Covid-19-pandemie het die omvang van wisselwerking in die wêreldekonomie getoon, deur produksiewaardekettings, handel, finansiële markte, reis en die uitruil van inligting.

Finansiële stabiliteit

Die Reserwebank se mandaat sluit in om finansiële stabiliteit te beskerm en verbeter. Die risiko’s wat die bank die afgelope jaar geïdentifiseer het, was die verswakkende makro-ekonomiese toestande, die regering se fiskale posisie, kuberaanvalle op finansiële infrastruktuur, en klimaatsverandering.

“Die Covid-19-pandemie het al dié risiko’s sentraal tot die finansiële stelsel geplaas. Die regering se effekte-uitreikings is hoër, die verswakkende ekonomiese toestande het die kredietrisiko’s van finansiële instellings verhoog, tydperke van markstres en –wisselvalligheid het groter druk op markinfrastruktuur geplaas. Daarby is kuberveiligheidsrisiko’s verhoog deur die langdurige tyd wat mense van die huis af werk.”

Die Reserwebank monitor die finansiële stelsel voortdurend vir stres, maar Kganyago sê in dié stadium bly die stelsel “veerkragtig”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.