Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Reserwebank: ‘Kapers wag geduldig tot Tito loop’

Die “linkses en staatskapers” in die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) is geduldig en sal wag totdat Tito Mboweni oor 12 tot 18 maande as minister van finansies uittree voordat hulle hul wense oor die Reserwebank uitvoer.

Tito Mboweni, minister van finansies, kort voordat hy in Februarie sy begrotingsrede in die parlement gelewer het.

Só sê die ontleder Peter Attard Montalto van Intellidex oor die jongste stryery binne die ANC oor die rol van die Reserwebank om armoede en werkloosheid te verlig.

Ace Magashule, sekretaris-general van die ANC, het Dinsdagmiddag verklaar die NUK het die naweek besluit die resolusies van die ANC se nasionale konferensie in Desember 2017 moet “volledig” in werking gestel word. Een hiervan was om die mandaat van die Reserwebank uit te brei sodat dit ook groei en indiensneming as doelwit het, en nie bloot die beskerming van die waarde van die rand nie.

Boonop gaan die ANC die regering vra om ’n taakspan aan te stel wat kwantitatiewe verruiming moet ondersoek as maatreël om die staat se skuldlas te probeer verlig sodat daar meer geld is vir ontwikkelingsdoeleindes.

Maar teen Dinsdagaand het Enoch Godongwana, hoof van ekonomiese transformasie by die ANC, ’n verklaring uitgereik wat ontken dat die ANC besluit het om die mandaat van die Reserwebank uit te reik. Godongwana het selfs Magashule se verklaring dat ’n taakspan oorweeg word om kwantitatiewe verruiming te ondersoek, as “onakkuraat” beskryf.

Die ANC het op sy nasionale konferensie in Desember 2017 wel besluit die Reserwebank behoort genasionaliseer te word, maar wou toe nog nie torring aan die bank se mandaat nie.

In sy verkiesingsmanifes in Januarie vanjaar het die ANC weer gesê monetêre beleid moet werkskepping en ekonomiese groei in ag neem, maar die ANC het weer gesê hy sal nie aan die bank se mandaat torring nie.

Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex, verduidelik daar is ’n verskil tussen die mandaat van die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee (MBK) en die bank as geheel se mandaat. Die hoofmandaat van die bank word deur die Grondwet beskerm en kan slegs verander word deur die Grondwet te verander.

Die MBK se mandaat kan verander word deur ’n brief van die minister van finansies aan die Reserwebank.

Die blote feit dat die jongste idees oor die Reserwebank in amptelike resolusies van die ANC se NUK verskyn, wys volgens Montalto dat die gematigdes beheer verloor het van die NUK se kommunikasie en dat die “linkses en staatskapers” dié stryd gewen het.

Volgens Montalto wil die NUK die MBK se mandaat verander. Hy verwag skerp teenkanting daarteen van die huidige leierskap by die Reserwebank en die nasionale tesourie, maar namate dié leierskap verander word, kan groot skade in die toekoms aangerig word.

Lesetja Kganyago se eerste termyn as president van die Reserwebank loop in November ten einde en geen aankondiging is nog gedoen of dit verleng gaan word nie.

Montalto meen die linkses in die NUK wil die monetêrebeleidskomitee se mandaat verander om ’n Reserwebank te hê wat meer bydra tot transformasie en ontwikkeling, terwyl die “staatskapers” in die NUK beheer wil hê oor die Reserwebank se Omsigtigheidsowerheid om te keer dat die Reserwebank soos in die verlede optree om staatskaping te keer.

Huidige mandaat

Die huidige mandaat van die Reserwebank, soos verskans in die Grondwet, is om die waarde van die rand te beskerm in belang van “gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei”. Dié taak moet hy onafhanklik en sonder vrees, begunstiging en vooroordeel uitvoer, en in oorleg met die minister van finansies.

Die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, het in haar verslag in 2017 oor die Reserwebank voorgestel dié mandaat moet verander word sodat die bank se hooftaak is om gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei te bevorder terwyl die sosio-ekonomiese welstand van die burgers beskerm word. Sy wou ook hê die bank moet dit onafhanklik en sonder vrees, begunstiging en vooroordeel doen, maar in oorleg met die parlement pleks van die finansminister “om betekenisvolle sosio-ekonomiese transformasie te bereik”.

Die Reserwebank het haar verslag in die hof uitgedaag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.