Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Reserwebank koop vir 1ste keer staatseffekte

Die Reserwebank het Woensdagoggend aangekondig hy gaan begin om staatseffekte in die mark terug te koop om ’n groot tekort aan kontant in die finansieringsmark van Suid-Afrika te verlig.

Dit sal die eerste keer wees wat die Suid-Afrikaanse Reserwebank sogenaamde kwantitatiewe verruiming doen, het Henk Kotze, ’n portefeuljebestuurder van Prescient, Dinsdag gesê.

LEES OOK: Reserwebank ‘moet staatseffekte begin terugkoop’

Kwantitatiewe verruiming help verseker banke het genoeg geld.

“As ’n verdere maatreël om likiditeit by die mark te voeg, sal die Reserwebank ’n program begin om staatseffekte in die sekondêre mark aan te koop,” sê die bank in ’n verklaring.

Die Reserwebank sê dit sal likiditeit (kontant) verskaf en die gladde funksionering van plaaslike finansiële markte bevorder.

Watter staatseffekte gekoop word, sal deur die Reserwebank besluit word.

Die bank het verlede week ook maatreëls aangekondig om banke te help, maar dis as onvoldoende beskou.

LEES OOK: Só word verseker banke bly staan in krisis

Soortgelyke stappe om staatseffekte terug te koop om sodoende kontant in ’n kontanthonger mark te sit, is reeds oorsee aangekondig.

Die Federale Reserweraad van die VSA het Maandag onbeperkte aankope van staatseffekte aangekondig.

Kenners het vandeesweek aan Netwerk24 verduidelik met die paniek wat in die mark geheers het, wou almal net verkoop en daar was nie kopers nie.

Dit sluit in buitelandse beleggers wat uit Suid-Afrikaanse staatseffekte gevlug het, asook uit dié van ander opkomende markte.

In die binneland wou beleggers in staatseffekte ook verkoop om kontant te kry.

“Die Reserwebank het nou gesê hy kom in die mark in en koop staatseffekte en vat dit op sy balansstaat. Dit is maatreëls om die mark bietjie minder volatiel te maak,” verduidelik ’n kundige wat nie geïdentifiseer wil word nie.

“Daar is nie net verkopers nie, maar ook ’n koper. Hopelik haal dit van die paniek uit die mark uit.”

Volgens die kenner het Suid-Afrika dit nog nie voorheen gedoen in die nuwe bedeling gedoen nie. Hy is onseker of dit in die apartheidsjare gedoen is.

Baie mense se pensioenfondse en effektetrustfondse is waarskynlik gedeeltelik in staatseffekte belê. Die opbrengs op staatseffekte het ook baie geval, hoeveel nie soveel soos die aandeelmark nie. “Maar dis slegter as kontant.”Volgens hom het baie beleggers hul geld onttrek.

“Dis deel van die irrasionaliteit. Hopelik sal dit nou die mark kalmer maak.”

Prysmakers in die mark het hulle ook twee weke gelede onttrek aan die mark omdat hulle nie meer die werk kon verrig nie oor die risiko.

Dit het nog groter wisselvalligheid veroorsaak.

Die aankondiging het die markkoerse van die 20- en 10- jaar-staatseffekte reeds laat daal.

Meer oor:  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Ekonomiese Beleid  |  Staatseffekte  |  Monetêre Beleid  |  Covid-19  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.