Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Reserwebank ‘moet staatseffekte begin terugkoop’

Sogenaamde kwantitatiewe verruiming gaan dalk vir die eerste keer Suid-Afrika se voorland wees te oordeel na wat pres. Cyril Ramaphosa Maandagaand te midde van sy aankondiging van ’n nasionale inperking gesê het.

Die Reserwebank in Pretoria.

Henk Kotze, ’n portefeuljebestuurder van Prescient, meen Ramaphosa se verwysing daarna dat die hoof van die Reserwebank hom verseker het dat “alles moontlik gedoen gaan word”, moontlik hierop kan dui.

Kwantitatiewe verruiming sal beteken dat die Reserwebank staatseffekte begin terugkoop.

Die mark het al verlede week gehoop die Reserwebank sal so ’n stap aankondig omdat daar ’n ernstige tekort aan likiditeit in die mark is.

LEES OOK: Só word verseker banke bly staan in krisis

Die Reserwebank het Vrydagoggend maatreëls aangekondig om die kontantvloei tussen banke in die finansieringsmark te verseker. In sy verklaring het die Reserwebank gesê die mark is onder toenemende druk en daar is likiditeitsprobleme.

Dit beteken almal verkoop staatseffekte om kontant te kry en niemand koop dit nie.

“Ek hoop dit is wat dit (Ramaphosa se uitlating) beteken, maar hulle het nog niks gesê nie. Die mark is ’n ramp.”

So het die 20-jaar-staatseffek se koers geklim.

Hy sê daar is geen likiditeit nie.

“Ons hoop die Reserwebank druk geld en koop staatseffekte en korporatiewe skuldbriewe terug.”

Amerika se Federale Reserweraad (Fed) het Maandag “onbeperkte kwantitatiewe verruiming en ondersteuning vir die kredietmark aangekondig” weens die likiditeitsknyp.

Tekort aan kontant in die mark

Kotze sê as die Reserwebank staatseffekte terugkoop, sal dit kontant terug in sirkulasie in die bankstelsel plaas.

“Die ouens het kontant nodig en daar is nie genoeg kontant beskikbaar nie.”

“Die staatseffektemark kan nie so aangaan soos nou nie want markkoerse is heeltemal te hoog.

“Daar is nie kopers nie. Almal verkoop en verkoop net.

“Die mark het dit broodnodig dat die Reserwebank iets sê. Maar hulle moet dit nóú doen. Hulle kan nie langer wag nie.”

Volgens hom het die koers van die 20-jaar-staatseffek op die weeklikse veiling van staatseffekte tot 14% opgeskiet.

“Die staat sal dit teen 14% onmoontlik kan bekostig.”

Dit is amper ongekend. Sover Netwerk24 kon vasstel, was die koers laas in 2000 so hoog.

Izak Odendaal en Dave Mohr, beleggingstrateë van Old Mutual Wealth, het Maandag in ’n verklaring gesê indien hierdie situasie net korttermyn gaan wees, sal die invloed op die regering se finansies klein wees. “As markkoerse so hoog bly, gaan dit ongelooflike druk op die regering se geldsake plaas omdat die nasionale tesourie ’n wesenlike klomp nuwe geld moet leen en ou skuld moet herfinansier.”

Hoe hoër die markkoers styg, hoe laer raak die prys van staatseffekte.

“Die prys het geval omdat internasionale beleggers hul geld aan opkomende markte onttrek het,” het Odendaal Vrydag verduidelik nadat die markkoerse van staatseffekte reeds skerp gestyg het.

Hy het Dinsdag gesê hy stem saam dat die Reserwebank moet ingryp.

Hy sê dit is belangrik dat ander sentrale banke ook nou op groot skaal ingryp om te verseker dat die markte goed kan funksioneer.

“Die Fed het Maandag basies onbeperkte aankope van staatseffekte aangekondig, nie soseer om rentekoerse af te druk nie, maar om die mark te laat werk.”

“Sentrale banke pas monetêre beleid toe deur die effekte- en die geldmark. Dit is dus belangrik dat die markte goed funksioneer. Dit help nie hulle sny die repokoers, maar al die ander koerse gaan op nie.”

Die meeste pensioenfondse het wesenlike blootstelling aan staatseffekte.

Die grootste styging in die 20-jaar-staatseffek was Maandag. ’n Maand gelede, op 24 Februarie, was sy koers op 9,9%. Dit het stelselmatig gestyg tot 11% Vrydag 13 Maart en op Vrydag 20 Maart was dit op 12,7%.

Die tienjaarstaatseffek se markkoers het Vrydag tot 12,6% opgeskiet van 12,3% die vorige dag. Op 24 Februarie was dié markkoers 8,8%; op 13 Maart 10%; en op 20 Maart 11,6%.

Meer oor:  Rentekoers  |  Ekonomie  |  Staatseffekte  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.