Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Reserwebank moet stem dik maak oor eiendomsreg’

Die land se handelsrekening het die jaar op ’n hoë noot begin en die rekord-surplus wat in 2020 op die lopende rekening van die betalingsbalans behaal is, gaan dalk selfs vanjaar getroef word.

Gedurende Januarie en Februarie het die primêre sektore oudergewoonte reusebydrae tot die skittervertoning van uitvoer gelewer.

Landbou en voedselverwerking het ’n surplus van R13,2 miljard opgelewer, wat byna dubbel die bedrag van verlede jaar is, terwyl die handelsurplus van minerale met meer as 50% tot R29 miljard toegeneem het.

Wanneer die bydrae van edelmetale van meer as R34 miljard bygetel word, is dit duidelik dat Suid-Afrika se landbou-waardeketting saam met die land se rykdom aan metale en minerale ’n oorheersende rol kan speel in die terugkeer na positiewe en sterk ekonomiese groei.

k

Ten spyte van die onsekerheid oor grondhervorming, het landbouers se vertroue in dié strategies belangrike sektor se toekoms vanjaar verder verbeter.

k

Volgens die jongste indeks van sakevertroue in die landbou, wat deur die landbousakekamer Agbiz en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) opgestel word, is ’n waarde van 64 in die eerste kwartaal vanjaar aangeteken, wat die hoogste vlak in sewe jaar is (’n waarde bo 50 verteenwoordig optimisme oor saketoestande in die landboubedryf).

Tesame met die gunstige oesskattings vir somergewasse is landbou besig om voort te bou op die merkwaardige prestasie van verlede jaar, toe die sektor se toegevoegde waarde met meer as 13% in reële terme gestyg het.

Leiers uit bykans die volle spektrum van landbou-besighede en -organisasies is, saam met die departement van landbou, grondhervorming en

Die Reserwebank se kantoor in Pretoria.

landelike ontwikkeling, ook reeds maande lank besig met die opstel van ’n meesterplan vir landbou, wat die verwerking van landbouprodukte insluit.

Die doel van die meesterplan is om stukrag aan die uitbreiding van die landbousektor te verleen en een van die maatreëls is reeds aangekondig, naamlik finansiële ondersteuning van R1 miljard deur middel van die regering en die IDC se Agri-nywerheidsfonds.

Die regerings van die meeste lande erken die strategiese rol van landbou en ondersteun dié sektor op ’n verskeidenheid maniere, insluitende subsidies op insetkoste.

Ongelukkig was Suid-Afrika die afgelope drie dekades ’n uitsondering op dié vuisreël en die regering sal moet wakker skrik vir die omvangryke bedreigings waarmee landbouers te kampe het, veral swak infrastruktuur, misdaad en die moontlikheid van grondonteiening sonder vergoeding.

Hopelik sal die parlement in die komende maande die gesaghebbende navorsing deur Agri SA en die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) oor dié netelige kwessie in ag neem en nié met die grondwetlike waarborg van private eiendomsreg lol nie.

Mynbou behoort vanjaar van krag tot krag te gaan, veral as gevolg van die haas onuitputbare vraag van China en Indië, wie se ekonomieë na verwagting in 2021 teen sowat 8% en 12%, onderskeidelik sal groei.

Die verkope van minerale in Suid-Afrika het juis in Januarie ’n nuwe hoogtepunt bereik, naamlik meer as R63 miljard. Dit was 25% en 55% hoër, onderskeidelik, as die syfers vir die eerste maand van 2020 en 2019. Platinum, palladium, goud en ystererts was die vernaamste bydraers.

Die wesenlike buitelandse-valutaverdienste van die landbou, mynbou en voedselbedryf verteenwoordig een van die hoofredes dat die rand sedert April verlede jaar met meer as 30% teenoor die Amerikaanse dollar versterk het.

Monetêre stabiliteit word hierdeur in die hand gewerk en dit is dalk tyd vir die Reserwebank om sy stem dikker te maak oor die handhawing van private eiendomsreg in Suid-Afrika, wat ’n voorvereiste vir investering en volgehoue ekonomiese groei is.

  • Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep, is ’n voormalige wenner van Netwerk24, Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.