Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Reserwebank ‘mors kans vir beter sakevertroue’

Die Reserwebank het Donderdag ’n geleentheid deur sy vingers laat glip “om ’n positiewe boodskap aan ondernemings en verbruikers te stuur”, sê prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-universiteit se sakeskool.

raymond parsons
Prof. Raymond Parsons van die Noordwes-universiteit se sakeskool. Foto: Elvira Wood

Parsons sê ’n laer rentekoers sou sakevertroue wat op die laagste vlakke in dekades is, ’n hupstoot gegee het. Die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee het eenparig besluit om die koers onveranderd te hou.

“Daar is beslis ruimte vir ’n verdere verlaging in die rentekoers op grond van die monetêrebeleidskomitee (MBK) se eie voorlegging van relevante data oor die balans van risiko’s,” sê Parsons.

“Die kombinasie van ’n swak plaaslike ekonomie, die verlaagte inflasierisiko, en ’n dalende wêreldwye rentekoerssiklus regverdig ’n verdere verlaging in leningskoste.

“Met die inflasievooruitsig beter geanker, sou die MBK veilig meer gewig aan ekonomiese groei op dié kwesbare tydstip in Suid-Afrika se sakesiklus gegee het.”

Die Reserwebank se verwagting vir ekonomiese groei vir vanjaar bly onveranderd op ’n tam 0,6%, maar die verwagting vir 2020 en 2021 is verlaag. Dis nou onderskeidelik 1,5% en 1,8%, teenoor die 1,8% en 2% wat in Julie voorspel is.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. Foto: Deon Raath

Parsons beklemtoon die werklike remedies vir Suid-Afrika se ekonomiese probleme lê nie binne die beheer van monetêre beleid nie. Die land het pro-groei-hervormings dringend nodig, sê hy.

Dis ook iets waarop Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, klem gelê het: “Die staatsektor se behoeftes aan finansiering bly hoog, wat druk op die geldeenheid plaas en plaaslike effektekoerse hoër druk relatief tot soortgelyke lande. Die inwerkingstelling van gesonde makro-ekonomiese beleid en strukturele hervormings wat koste verlaag en investering en potensiële groei verhoog, bly dringend.”

Mamello Matikinca-Ngwenya, FNB se hoofekonoom, sê die besluit is nie veel van ’n verrassing nie, gegewe die onsekerheid oor fiskale beleid en Moody’s se graderingsbesluit wat voorlê.

“Ons meen egter daar is ruimte om die repokoers verder te verlaag. Wêreldwyd bly monetêre beleid akkommoderend en plaaslik bly groei en inflasie traag.”

Sy verwys na die Federale Reserweraad se besluit Woensdagaand om die rentekoers te verlaag, en die feit dat die Europese Sentrale Bank nou selfs negatiewe koerse het.

Mamello Matikinca-Ngwenya, hoofekonoom van FNB.

Matikinca-Ngwenya sê indien oliepryse stabiliseer, behoort inflasie naby die middelpunt van die Reserwebank se teikenband geanker te bly.

Die rentekoers is in Julie met 0,25 van ’n persentasiepunt verlaag, die eerste verlaging in 2019.

Dit lyk nie asof die rentekoers binne die afsienbare toekoms verlaag gaan word nie, volgens die Reserwebank se kwartaallikse projeksiemodel.

Die sentrale bank se repokoers bly dus 6,5% en banke se prima koers 10%.

Die Reserwebank het sy verwagting vir inflasie vir 2019 verlaag tot net 4,2%, vanaf Julie se voorspelling van 4,4%. Die verwagting vir 2020 is onveranderd op 5,1% en vir 2021 is dit effens hoër op 4,7% (Julie: 4,6%).

Die boonste draaipunt van inflasie gaan na verwagting in die eerste kwartaal van 2020 op 5,3% wees.

Dit beteken inflasie gaan vir minstens die volgende twee jaar binne die Reserwebank se teikenband van 3% tot 6% bly, maar Kganyago het weer beklemtoon hy wil dit teen 4,5% geanker sien.

Risko’s vir inflasie wat in die vooruitsig gestel word, is stygende brandstofpryse, kragtariewe en kospryse.

In vraetyd het Kganyago laat blyk hy is nie té bekommerd oor Moody’s Investors Service se graderingsbesluit in November nie. Daar word alom verwag dat Moody’s die vooruitsig vir Suid-Afrika se gradering van stabiel na negatief sal verander voordat die land tot rommelstatus afgegradeer word.

Meer oor:  Moody's  |  Reserwebank  |  Raymond Parsons  |  Lesetja Kganyago  |  Repokoers  |  Rentekoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.