Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Reserwebank: ‘Pen is uit handgranaat getrek’

As dit by die geloofwaardigheid van pres. Cyril Ramaphosa se regering kom, is die rusie oor die Reserwebank ’n “handgranaat waarvan die pennetjie uitgetrek” is.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, moet help om ’n aanslag van links op die sentrale bank te trotseer.

Selfs al slaag hy daarin om interne weersprekings oor die monetêre beleid vanuit die ANC te keer, is dit onseker hoe dié vraagstuk op lang termyn gaan eindig.

Só reken Peter Attard Montalto, Intellidex se hoof van kapitaalmarknavorsing, in sy jongste verslag wat die droewige pad vorentoe vir Suid-Afrika uiteensit.

“Ramaphoria 2.0 is dood voordat dit eens begin het,” sê Montalto.

Hy sê dit blyk markte het vergeet dat politieke speletjies nie ná die verkiesing tot ’n einde sal kom nie.

“Daar sou altyd ’n teenreaksie teen Ramaphosa se oorwinning wees.

“Markte het ook blykbaar verwag dat vraagstukke soos die Reserwebank en grondonteiening eenkant toe geskuif sou word, maar dit gaan nie die uiteinde wees nie.”

Ander beleidsprobleme op ’n lang lys waaroor ’n herrie steeds verwag kan word, sluit in Nasionale Gesondheidsversekering, die beoogde wetgewing wat aan pensioenfondse gaan voorskryf dat hulle in ontwikkelingsprojekte moet belê, en die herstrukturering van Eskom.

Montalto sê Ramaphosa, Tito Mboweni, minister van finansies, en die Reserwebank self probeer nog hard om meer linksgesinde beleidskeuses te keer.

Volgens hom kan hulle dalk wel van die grootste afwykende beleidsrigtings voorkom wat van “Zuma-faksies”, die SAKP en individue soos Ace Magashule afkomstig is.

Maar hy waarsku ook dat hervorming nie eintlik moontlik is in so ’n omgewing nie, en dat selfs net gerugte dat die Reserwebank se mandaat of onafhanklikheid gewysig gaan word, die min planne wat Ramaphosa nog het om die ekonomie te stimuleer in die wiele kan ry.

Nou bly net “fasades van doelwitte” oor.

“ ’n Kernprobleem is egter dat ons dink dat maklike maniere uit dié gemors nou ál is waarna nog gekyk word, eerder as enige meer fundamentele verskuiwing in denke,” sê Montalto.

“Ons glo dat die argument oor kwantitatiewe verruiming nie van nêrens af skielik kop uitgesteek het nie, maar dit word al maande in sommige dele van die regering bespreek en deur die SAKP gedryf.”

“Daar is egter ’n breër strategiese vraag op die spel, veral ná die afgelope week: Verstaan die president en diegene om hom die belangrikheid van sekere vraagstukke, soos die Reserwebank se onafhanklikheid, wat ernstige uitvalrisiko kan veroorsaak, of nié?

“Tot dusver is die antwoord ‘nee’ ”.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Monetêre Beleid  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.