Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Reserwebank: ‘Populiste gaan nie wen nie’

Suid-Afrika het ’n hele aantal populiste wat radikale dinge wil doen wat die ekonomie kan skade berokken, maar dit word al hoe duideliker dat anargie nie sal losbars nie, sê Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank.

Lesetja Kganyago, president van Suid-Afrikaanse Reserwebank.

“Ons het sterk instellings, en ons het beter argumente. Ons kan nie keer dat party mense populistiese dinge sê nie, maar ons kan die beleidsdebatte wen – en ons is besig om te wen.”

Kganyago sê in ’n swak ekonomie is daar ’n groot risiko dat die heersende politici en hul beleid verwerp kan word. Die teenoorgestelde uitkoms – naamlik dat die regering bemagtig word – is egter ook moontlik. “Dit lyk asof dít die rigting is wat Suid-Afrika inslaan.”

Kganyago was ’n spreker op die South Africa Tomorrow-konferensie wat Donderdag in New York in die VSA gehou is.

Hy sê dis duidelik dat die regering van pres. Cyril Ramaphosa, met Tito Mboweni as minister van finansies, Suid-Afrika se fiskale balans wil verbeter, “en dit wil doen op ’n manier wat beleggings bevorder en daarom goed is vir langtermyngroei. Ons is duidelik verby die punt waar ons kan hoop om beleggings te verhoog bloot deur meer te bestee of die vraag te verhoog.”

Kganyago het dié opmerkings oor die interaksie tussen die ekonomie en politiek getemper met die opmerking dat hy as leier van die sentrale bank “probeer om nie te veel oor fiskale beleid te sê nie – ook omdat ek die hoflikheid wil weerspieël wat ander owerhede ons gee deur die onafhanklikheid van monetêre beleid te respekteer.”

Een van die primêre oorsake van swak groei was die drastiese agteruitgang in goeie regering die afgelope jare – ’n tydperk van politieke verval wat nou eindig.
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank

Dit kom nadat Mboweni onlangs in sy toespraak oor die mediumtermynbegrotingsraamwerk gesê het Kganyago en sy span moenie “afgelei word deur die gereelde aanvalle op die mandaat en die onafhanklikheid van die Reserwebank nie”.

Onder pres. Jacob Zuma was daar gereeld stekies na die Reserwebank, ook deur middel van die openbare beskermer, en die regerende party het self op sy beleidskonferensie in Desember gesê die Reserwebank moet genasionaliseer word. Niks het nog van dié besluit gekom nie.

Kganyago sê dit was vanjaar baie duidelik dat ontluikende lande met groot begrotingstekorte en tekorte op hul lopende rekenings baie swaarder getref is deur wisselkoersskommelinge.

“Om dié kwesbaarheid te verminder, sal vereis dat die begrotingstekort verminder word, sowel as veranderinge in besteding wat langtermyngroei bevoordeel en daarom lande se toekomstige vermoë om skuld terug te betaal, verbeter. Dié aanpassingsproses sal waarskynlik moeilik wees, vir politiek ekonomiese redes asook omdat makro-ekonomiese aanpassings korttermyngroei kan benadeel.”

Ekonomiese groei

Kganyago sê 2018 gaan waarskynlik die vyfde jaar in ’n ry wees dat Suid-Afrika se bruto binnelandse produk per capita negatief groei. Die ekonomie groei dus stadiger as die bevolking, hoewel bevolkingsgroei net 1,6% is.

Hy sê die rede vir die trae groei kan net deels op eksterne faktore en die droogte of stakings geblameer word. “Een van die primêre oorsake van swak groei was die drastiese agteruitgang in goeie regering die afgelope jare – ’n tydperk van politieke verval wat nou eindig.”

Ons herstel van ’n tydperk van selftoegediende beserings, en daar is goeie groeigeleenthede wat ons kan ontgin wanneer ons weer op die been is.
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank

Kganyago sê die “uithol van instellings” en die “plundery van staatshulpbronne vir private voordeel” het sake- en verbruikersvertroue ondermyn, wat op sy beurt investering laat stagneer het.

Staatskaping het ook fiskale probleme ondermyn, “omdat dit die staat met korrupte en vrugtelose besteding belas het, en ook omdat dit die vermoë om belasting in te vorder ernstig verswak het”.

“Soos die kommissies van ondersoek hul werk afhandel, sal ons lesse leer oor kwesbaarhede in ons institusionele en regeringsraamwerke en werk om ons instellings verder te versterk.”

Kganyago glo daar is minstens drie redes waarom Suid-Afrika se ekonomie op mediumtermyn vinniger sal groei:

  • Maatskappye sal meer in hul eie produksievermoë begin belê noudat die plaaslike omgewing verbeter het;
  • Huishoudings se skuldvlakke in verhouding tot hul inkomste het die afgelope ruk tot 2006-vlakke verlaag en hulle sal dalk nou weer begin skuld aangaan (byvoorbeeld deur huis te koop), en dié besteding sal die ekonomie help; en
  • Daar is groot potensiaal vir verdere hervormings. Kganyago sê daar is baie vrugte aan die lae takke wat gepluk kan word – doeltreffendhede in die ekonomie wat verbeter kan word op verskeie fronte.

“Ons streef na groeikoerse naby ons historiese tendense, en wanneer ons dit bereik het, kan ons ambisieus raak oor vinniger groeikoerse.

“Ons herstel van ’n tydperk van selftoegediende beserings, en daar is goeie groeigeleenthede wat ons kan ontgin wanneer ons weer op die been is.

“Ek is vol vertroue dat Suid-Afrika môre ’n beter plek as Suid-Afrika vandag gaan wees.”

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Ramaphosa  |  Jacob Zuma  |  Lesetja Kganyago  |  Cyril  |  Mtbr2018  |  Tesourie  |  Populisme  |  Fiskale Beleid  |  Reserwebank  |  Staatskuld  |  Stimuluspakket  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.