Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Reserwebank: SA het nog lank nie IMF-hulp nodig

Suid-Afrika se geldsake het nog nie soveel agteruitgegaan dat die land hulp van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) nodig het nie, het Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, Woensdag gesê.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank

Kganyago sê die oplossings vir Suid-Afrika se ekonomiese probleme bly binne sy beheer “en die owerhede weet wat gedoen moet word”.

Hy het dié opmerkings gemaak op ’n middagete met sakejoernaliste in Johannesburg.

Dit kom nadat Sipho Pityana, president van Besigheidseenheid Suid-Afrika, vroeër dié week gesê het as die regering nie die Eskom-krisis beter bestuur nie, gaan die land selfs ’n reddingsboei nodig hê.

Woensdag het Magda Wierzycka, uitvoerende hoof van die batebestuursfirma Sygnia, gesê die voorbeeld van Griekeland wys hoe vernietigend IMF-hulp kan wees omdat baie streng besuiniging as voorwaarde gestel word.

LEES OOK: Magda Wierzycka waarsku teen IMF-hulp

Peter Attard Montalto, ’n navorser van Intellidex, reken Suid-Afrika is nog lank nie by die punt waar ’n IMF-lening nodig is nie, maar as die regering “voortploeter” soos tans, kan die prentjie oor ’n jaar aansienlik anders daar uitsien.

LEES OOK: IMF-lening? ‘Nee, SA sal pleisters plak’

Op dieselfde geleentheid het Kuben Naidoo, ’n adjunkpresident van die Reserwebank en uitvoerende hoof van die Omsigtigheidsowerheid, ook uiteengesit wat hy reken die ekonomie onmiddellik ’n hupstoot sal gee en die krisisvlakke van werkloosheid sal verminder. Dit sluit in:

  • Verwyder beleidsonsekerheid;
  • Ken nuwe breëbandspektrum toe; en
  • Verander visumregulasies.

Die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee (MBK) noem nou al jare lank met elke tweemaandelikse verklaring dat strukturele hervorming nodig is om ekonomiese groei aan te help. Monetêre beleid alleen kan nie die ekonomie ondersteun nie.

Sedert Julie se rentekoersverlaging het Kganyago en ander lede van die MBK al herhaaldelik beklemtoon dat dit net ’n fraksie tot ekonomiese groei gaan bydra.

’n Verlaging van 25 basispunte in die rentekoers gaan ekonomiese groei in die daaropvolgende jaar met net sowat 0,1% verhoog, het Kganyago op 24 Julie in ’n lesing by Unisa in Pretoria gesê.

Hy sê dié statistiek is op jare se navorsing gegrond. “Die probleem met ekonomiese groei in Suid-Afrika is hoofsaaklik struktureel. Dit kan nie met monetêre beleid verander word nie,” sê hy.

“Monetêre beleid gaan nie die PhD’s skep wat ons nodig het om as land in die vierde nywerheidsrevolusie mededingend te wees nie. Monetêre beleid gaan nie die vaardighede skep wat ons nodig het om ekonomiese groei te bewerkstellig nie. Dit gaan ook nie die gesondheid- of onderwyssituasie verbeter nie.”

“In elke gebied van die ekonomie – mynbou, landbou, toerisme, spektrumtoewysing – is daar beleidsonsekerheid wat investering kniehalter,” sê Naidoo.

Vordering met dié vraagstukke is baie stadig. Die nuwe beleid oor spektrum is wel onlangs uitgereik.

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede aangekondig ’n elektroniese visumstelsel gaan bekend gestel word, waarmee die regering hoop om teen 2020 21 miljoen oorsese toeriste te lok, vergeleke met 10 miljoen in 2018. Geen vordering is nog aangekondig met dié stelsel nie.

Naidoo sê as 5G-breëband in werking gestel word, kan dit investering met 0,25% tot 0,5% van die bruto binnelandse produk laat styg, datakoste verlaag en nuwe markte skep.

As visumregulasies verslap word, wat “met die klik van ’n vinger” gedoen kan word, kan dit tot 300 000 heeltydse poste en 600 000 deeltydse poste vir elke miljoen besoekers skep.

Naidoo sê dis ook net logies dat dit vir vaardige immigrante makliker gemaak moet word om in Suid-Afrika te werk. Vir elke vaardige buitelander kan werk geskep word vir vier ongeskoolde Suid-Afrikaners.

Naidoo sê die Reserwebank vermy gewoonlik gesprekke oor strukturele hervorming juis omdat hy nie wil inmeng met ekonomiese beleid nie, nes die Reserwebank nie wil hê “ministers moet aan ons voorskryf wat om met rentekoerse te doen nie”.

Die onafhanklikheid van die Reserwebank word juis beskou as een van die min sterk punte in die land wat keer dat Moody’s Investors Service die land tot rommelstatus afgradeer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.