Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Reserwebank sal onafhanklik bly – Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand in sy staatsrede die versekering gegee die Reserwebank sal toegelaat word om sy grondwetlike mandaat uit te voer.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank.

Hy het egter ook beklemtoon die einste Grondwet vereis dat die Reserwebank met die regering – in die persoon van die minister van finansies – in gesprek moet bly oor hóé die Reserwebank sy mandaat uitvoer.

Dit kom te midde van ’n vurige debat binne die ANC self oor die rol van die Reserwebank, met mense soos Ace Magashule, sekretaris-generaal, wat reken die sentrale bank se mandaat skiet tekort.

Vandag herbevestig ons hierdie konstitusionele mandaat, wat die Reserwebank onafhanklik moet nastreef, sonder vrees, begunstiging of vooroordeel.
Pres. Cyril Ramaphosa

Die president het beklemtoon die Reserwebank se mandaat is reeds omvattend en fokus nie nét op inflasie, soos sommige mense meen nie.

“Die Suid-Afrikaanse Reserwebank is ’n kritieke instelling van ons demokrasie, en geniet wye geloofwaardigheid en ’n goeie reputasie in die land en internasionaal.

“Prysstabiliteit is ’n noodsaaklike, maar nie ’n voldoende voorwaarde vir ekonomiese groei nie.

“Stygende pryse van goedere en dienste ondergrawe die koopkrag van alle Suid-Afrikaners, maar veral dié van armes. Inflasie ondermyn verder die mededingendheid van ons uitvoer- en ons invoer-mededingende firmas, wat bedrywe en werk in die gevaar plaas.

“Om dié redes stel ons Grondwet die mandaat van die Suid-Afrikaanse Reserwebank om die waarde van ons geldeenheid in die belang van gebalanseerde en volhoubare groei te beskerm.

“Vandag herbevestig ons hierdie konstitusionele mandaat, wat die Reserwebank onafhanklik moet nastreef, sonder vrees, begunstiging of vooroordeel.

“Ons Grondwet vereis ook dat daar gereelde konsultasie tussen die Reserwebank en die minister van finansies is om makro-ekonomiese koördinering te bevorder, alles in die belang van werkskepping en ekonomiese groei.”

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het self in Maart gesê die onafhanklikheid van die sentrale bank is nie ’n “ivoortoring-konsep” nie.

Dit beteken nié die Reserwebank werk in isolasie om te bepaal hoe hy aan sy mandaat voldoen nie.

Kganyago sê inflasie is die voertuig waardeur die Reserwebank aan sy mandaat probeer voldoen.

“As ’n instelling het ons met die regering saamgewerk om die raamwerk vir die inflasie-teikening te identifiseer as die beste manier om ons mandaat te bereik . . . Ons glo die saak vir die bestaande raamwerk is baie sterk.”

Hy het gesê die Reserwebank se onafhanklikheid beteken nou hy kan “die saak stel vir hoe hy die beste sy doelwit kan behaal, deur die regering te konsulteer en met volle deursigtigheid aan die algemene publiek”.

Hy het ook gesê: “Uiteindelik stel die onafhanklikheid van die sentrale bank die Reserwebank in staat om te hoor wat verskillende belangegroepe te sê het, maar gee dit die beleidsruimte om besluite oor inflasie te neem wat uiteindelik almal bevoordeel.”

In Januarie het hy as volg gesê: “Ons mandaat as die Suid-Afrikaanse Reserwebank is om die waarde van die geldeenheid te beskerm in die belang van gebalanseerde en volhoubare groei. Enigeen wat sê die Reserwebank gee nie om oor groei nie, het nie die Grondwet gelees nie.

“Jy kan nie gebalanseerde en volhoubare groei hê as daar wanbalanse is nie. En daardie wanbalanse sluit hoë werkloosheid in.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.