Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Reserwebank ‘sal rand nie met rentekoers help’

Die Reserwebank gaan nie ingryp om die rand te ondersteun nie, “tensy die ordelike funksionering van die markte bedreig word”, het Daniel Mminele, een van die bank se adjunkpresidente, Maandag aan Bloomberg gesê.

Daniel Mminele, een van die adjunkpresidente van die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Foto: Lisa Hnatowicz

Dit kom in reaksie op die slegste dag nóg vir die rand, wat Maandag met nagenoeg R1,22 teenoor die dollar verswak het voordat dit verlore veld herwin het. Teen 17:00 sou ’n dollar jou R14,30 kos.

Die rand was die slagoffer van die spanning tussen Turkye en Amerika wat Vrydag tot die verdubbeling van invoertariewe op Turkse staal en aluminium gelei het.

“Ons voorkeur is dat die wisselkoers deur markkragte bepaal word,” het Mminele aan Bloomberg gesê. “Ons hou beslis die situasie fyn dop, maar ons sal nie betrokke raak met die oog daarop om die wisselkoers in enige rigting te beïnvloed of om die afwaartse druk op ’n geteikende manier te stuit nie. Ons jaag nie ’n wisselkoers-teiken na nie.”

Bloomberg berig termynmarkte verwag dat Suid-Afrika se rentekoers gaan styg, maar kenners is skepties of die Reserwebank op die korttermyn-wisselvalligheid van die rand gaan reageer. Die Reserwebank sal eerder sy fokus op inflasie behou, en veral kyk na die mate waarin die swakker rand op langer termyn inflasie opdruk, glo hulle.

Dis in teenstelling met Turkye se sentrale bank, wat geen geloofwaardigheid het nie – ondanks rekordhoë inflasie van byna 16% het die sentrale bank onder politieke druk nog nie die rentekoers verhoog nie.

Jim Cairns en Kim Silberman van RMB sê die swakker rand sal inflasie wel opdruk, maar dit gaan nie sommer die Reserwebank oorreed om die rentekoers te verhoog wanneer die monetêrebeleidskomitee weer op 20 September daaroor besluit nie.

Inflasie is nou al meer as ’n jaar lank binne die Reserwebank se teikenband van 3% tot 6% en die voorspellings is dat dit daar sal bly tot minstens 2020.

Die Turkse krisis is Maandag beskryf as ’n sogenaamde “swart swaan” – ’n gebeurtenis wat nie voorspel sou kon word nie, en wat dus ook nie in die Reserwebank se voorspellings vervat is nie. Die Reserwebank het in Julie wel die dreigende handelsoorlog as ’n risiko vir die rand genoem.

Die laaste keer dat die Reserwebank aktief ingegryp het, was tydens die Asiatiese krisis van 1997, toe die bank buitelandse valuta bestee het in ’n mislukte poging om die rand te red.

Die Reserwebank het in 2000 inflasie as sy mandaat aangeneem onder die leiding van Tito Mboweni as president.

Sedertdien het die sentrale bank herhaaldelik beklemtoon hy teiken nie ’n bepaalde rand-dollar-wisselkoers nie en sal nie rentekoerse gebruik om die geldeenheid te ondersteun nie. Die Reserwebank het intussen weer sy valutareserwes opgebou tot ’n stewige $50,5 miljard in buitelandse geldeenhede en goud.

Cairns en Silberman verwag dat die rand sy verliese sal herwin, en vir die res van die jaar teen tussen R13 en R14 per dollar sal verhandel.

Ander ontleders is minder optimisties, met Annabel Bishop van Investec wat voorspel dat die rand die jaar op R15,90 per dollar sal eindig en in 2019 tot selfs R17 per dollar kan verswak indien Trump sy handelsoorlog voortsit.

Meer oor:  Daniel Mminele  |  Reserwebank  |  Rentekoers  |  Rand  |  Inflasie  |  Markte  |  Inflasiekoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.