Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Reserwebank se baas verdien R6,3 miljoen
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. Foto: Denzil Maregele

Vir die nagte wat hy wakker lê en oor monetêre beleid tob, verdien Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, darem ’n salaris wat glad nie te versmaai is nie.

Kganyago se totale vergoedingspakket vir die boekjaar tot einde Maart was R6,326 miljoen.

Hy het ’n verhoging van meer as 32% gekry vanaf die vorige boekjaar, maar dit sluit sy bevordering van adjunkpresident tot president van die sentrale bank in.

Kganyago het op 8 November 2014 by Gill Marcus as president oorgeneem.

Slegs sy salaris, dus as byvoordele uitgesluit word, is R516 500 per maand.

Dié inligting is vervat in die Reserwebank se jaarverslag wat Vrydag uitgereik is.

Die totale vergoeding van senior personeel en direkteure het met 18,37% tot R21,388 miljoen gestyg.

Die drie adjunkpresidente het ook stewige pakkette verdien.

Daniel Mminele het ’n 12%-verhoging tot R4,552 miljoen gekry; Francois Groepe se verhoging was net minder as 11,5% tot R4,539 miljoen; en Kuben Naidoo het R4,372 miljoen verdien. Naidoo, wat pas ook as die nuwe registrateur van banke aangestel is, het op 1 April 2015 by die bank begin werk.

Die bank het as geheel ’n nabelaste wins van R1,5 miljard gemaak, vergeleke met R0,3 miljard in 2015. Dit is grootliks danksy die feit dat die bank se bates – onder meer goud en buitelandse valuta – in die jaar meer as verdubbel het in waarde.

Die sentrale bank keer R200 miljoen se dividende aan sy aandeelhouers uit, wat neerkom op 5c per aandeel, en saam met die tussentydse dividend van Oktober ’n totale dividend van 10c per aandeel beteken.

Suid-Afrika se Reserwebank is een van net agt sentrale banke wêreldwyd wat aandeelhouers buiten die regering het. Die ander is België, Griekeland, Italië, Japan, Switserland, Turkye en die VSA.

Die Reserwebank het tans nagenoeg 650 aandeelhouers. Geen individu mag meer as 10 000 aandele van die totale 2 miljoen aandele, oftewel 0,5%, hou nie.

Aandele word oor die toonbank verhandel sedert die Reserwebank in 2002 van die JSE gedenoteer het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.