Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Reserwebank se hoof: Dis tyd vir moeilike besluite

Eers jou groente, dan nagereg.

Só sê Lesetja Kganyago, pre­sident van die Reserwebank, oor die situasie waarin Suid-Afrika hom bevind met hoë staatskuld, swak ekonomiese groei en ’n moontlike afgradering van die land se staat­skuld tot rommelstatus.

Lesetja Kganyago sê Suid-Afrika se kredietgradering is in ons eie hande. Foto: Deon Raath

“Suid-Afrika se kredietgradering is in ons eie hande. Ons weet baie goed wat die kredietgraderingsagentskappe bekommer. As ons dit takel, kan ons ons beleggingstatus behou. As ons doen wat ons gesê het ons gaan doen, kan ons selfs in die volgende paar jaar ’n beter gradering kry,” het Kganyago die afgelope week in ’n onderhoud met Rapport in Johannesburg gesê.

Hy glo die politieke leiers weet wat die uitdagings is en wat gedoen moet word. “Wanneer dit by die ekonomie kom, is daar nie iets soos ’n gratis ete nie, net moeilike besluite. En dis daardie moeilike besluite wat die land se verkose leiers moet neem.”

Kganyago het verduidelik dis soos om jou leefstyl te verander en gereeld groente te eet vóórdat dit nodig is om medikasie vir cholesterol en hoë bloeddruk te moet neem.

Hy het aan Rapport gesê die vraag is, sou die land afgradeer word, of beleggers reeds hul geld landuit geneem het, en of hulle dit eers sal doen wanneer ’n afgradering gebeur.

Indien die geld reeds landuit is, sal ’n afgradering uiteraard nie tot ’n groot uitvloei van kapitaal lei nie. Maar as dit steeds hier is ten tyde van ’n afgradering, sal heelwat geld uitvloei, die rand sal verswak en dit kan inflasie opstoot.

LEES OOK: Reserwebank: SA het nog lank nie IMF-hulp nodig

Indien dít gebeur, sal die Reserwebank moet reageer om inflasie in toom te hou. Hy het benadruk dat hoër inflasie Suid-Afrikaners armer maak. As jy finansiële bates het, kan dit jou in ’n mate beskerm, maar vir gewone werkers of werkloses beteken hoë inflasie net pyn.

Wat die debat oor die mandaat, eienaarskap en nasionalisering van die Reserwebank betref wat telkens die laaste paar maande opgevlam het, sê Kganyago net sodra mense kalmeer danksy ’n versekering van die president of die minister van finansies, maak iemand weer ’n ondeurdagte opmerking wat die knuppel in die hoenderhok gooi.

Gaan die debat oor die mandaat, onafhanklikheid of eienaarskap van die bank ons help om die ekonomie aan die gang te kry?
Lesetja Kganyago van die Reserwebank

Die vraag is egter of dít die belangrikste debat is wat ons in Suid-Afrika moet hê. “Ons moet fokus op ons uitdagings. Die ekonomie groei skaars. Gaan die debat oor die mandaat, onafhanklikheid of eienaarskap van die bank ons help om die ekonomie aan die gang te kry?”

Of hy gefrustreerd of geïrriteerd raak met die kwessie wat kort-kort kop uitsteek, sê Kganyago bloot hy drink baie kamilletee.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. Sy termyn is pas met nog vyf jaar verleng. Foto: Deon Raath

“Ons moet ook praat oor waarom Suid-Afrika stadiger as die wêreldekonomie groei, en die laaste paar jaar ook stadiger as ander ontluikende markte.

“Wat is dit wat ons gedoen het of nie gedoen het wat maak dat ons groeikoers nie kers vashou by die res nie?”

Hy het ook gewaarsku oor die huidige handelspanning tussen twee van Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote, China en Amerika. So iets tref ’n land soos Suid-Afrika met ’n klein, oop ekonomie swaar.

Pres. Cyril Ramaphosa het Kganyago sowat ’n maand gelede vir nog ’n termyn van vyf jaar as president van die Reserwebank aangestel.

Lesetja Kganyago sê Suid-Afrika moet hom afvra waarom ander lande vinniger groei. Foto: Deon Raath

Kganyago het Donderdag in die mediagesprek gesê hy is bevoorreg om in ’n posisie te wees waar hy die land en landsburgers kan dien. Hy kan hom nie iets anders voorstel nie.

“Ek het ’n passie om te dien. Hierdie werk is ’n roeping, nie ’n ontplooiing nie. As ek gevra word om te dien, is ek beskikbaar vir waar my vaardighede en kennis benodig word.

“Ek is bereid om my werk by die Reserwebank te doen sonder vrees vir teenstand of druk. Die Reserwebank se personeel bestaan uit sulke mense, goeie mense wat verstaan wat nodig is. Dié mense het opgesien na my om hulle te lei.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.