Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Reserwebank: Tito stuur sterk boodskap met Kganyago
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank.Foto: Elvira Wood

Tito Mboweni, minister van finansies, het ’n baie duidelike boodskap aan die wêreld oor die Reserwebank gestuur met die heraanstelling van Lesetja Kganyago as sy president.

Die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) én prof. Raymond Parsons, ekonoom verbonde aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê die aanstelling wys dat die regering toegewyd is tot die onafhanklikheid van die bank, verantwoordelike monetêre beleid en ’n stabiele finansiële stelsel en geldeenheid.

Dit is juis dié kwessies wat onlangs baie aandag in die media gekry het nadat Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, op 5 Junie ’n herrie veroorsaak het toe hy gesê het die ANC se nasionale uitvoerende komitee het die voorafgaande naweek besluit die resolusies van die ANC se nasionale konferensie van Desember 2017 moet “volledig” in werking gestel word.

Een hiervan was om die mandaat van die Reserwebank uit te brei sodat dit ook groei en werkskepping as doelwit stel, en nie bloot die beskerming van die waarde van die rand nie.

David Masondo, adjunkminister van finansies, wat in ’n onderhoud met Business Day daarop gesinspeel het dat die repokoers te hoog is en dat dit ekonomiese groei onderdruk, het verdere vrae laat ontstaan oor moontlike inmenging by die bank.

Kganyago het egter deurgaans volgehou dat die mandaat van die Reserwebank deur die Grondwet beskerm word.

“Dié mandaat is om die waarde van die rand te beskerm,” het hy al herhaaldelik gesê.

Hy het ook verskeie kere die afgelope maand gesê dat daar absoluut geen regverdiging is vir kwantitatiewe verruiming nie.

LEES OOK: Reserwebank-debat: 5 dinge wat jy moet weet

Basa sê in ’n verklaring die heraanstelling van Kganyago en die aanstelling van Nomfundo Tshazibana en dr. Rashad Cassim as sy adjunkte, sal waarskynlik goeie nuus wees vir beleidsekerheid.

Basa sê Kganyago “is die soort ervare en volwasse leier wat nodig is as Suid-Afrika ’n manier wil kry uit die huidige ekonomiese krisis waarin hy hom bevind”.

Die vereniging sê monetêre beleid op sy eie kan egter nie die ekonomie weer op die herstelpad plaas nie.

“Ons hoop dat die aanstelling van hierdie span is ’n teken dat die regering eindelik beslissend begin optree wat betref verskeie ekonomiese uitdagings insluitende die vermindering van staatsuitgawes, die herstel van staatsondernemings en om dit makliker te maak om sake te doen én in die land te belê.”

Die Reserwebank sê in ’n verklaring hy verwelkom ook die aanstellings.

Meer oor:  Basa  |  Reserwebank  |  Raymond Parsons  |  Tito Mboweni  |  Lesetja Kganyago
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.