Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Reserwebank-twis ‘sal Cyril se leierskap toets’

Die openbare skermutseling binne die ANC oor die Reserwebank se mandaat sal ’n groot toets vir pres. Cyril Ramaphosa se leierskap wees.

Ace MagashuleFoto: Felix Dlangamandla

Die gevegte maak die Suid-Afrikaanse ekonomie, wat reeds in die “waakeenheid” is, net nog kwesbaarder omdat dit beleggers se vertroue in die land skaad, waarsku politieke ontleders.

Die geveg is ontketen ná ’n uitlating van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die party, dat die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) verlede naweek op sy lekgotla besluit het die Reserwebank se mandaat moet drasties uitgebrei word.

Hoewel Tito Mboweni, minister van finansies, en dr. Enoch Godongwana, die ANC se hoof van ekonomiese transformasie, dit later ten sterkste ontken het, was daar nog geen reaksie van Ramaphosa self nie.

Woensdagmiddag het die vakverbond Cosatu, ’n alliansievennoot van die ANC, verdere vet op die vuur gegooi deur te sê hy steun die idee dat die Reserwebank se mandaat uitgebrei moet word.

Op sy beurt het die EFF ook ’n eiertjie te lê gehad en Mboweni daarvan beskuldig dat hy “irriterend” en “arrogant” is en dink hy is verhewe “bo die kollektiewe wil van die mense”.

Tito MboweniFoto: Argief

Die rand het in ’n stadium Woensdag met sowat 30 sent teenoor die dollar teruggesak.

Dr. Sithembule Mbete, politieke ontleder aan die Universiteit van Pretoria, sê enige verwagting dat die faksie van oudpres. Jacob Zuma ná die verkiesing sou verdwyn of stilbly, is onrealisties.

“Zuma floreer daarop om chaos te saai. Dit is mense soos Magashule (wat deel is van dié faksie) se taak om soveel moontlik afleidings te skep om die intense druk op hulle te verlig,” sê Mbete.

Dr. Enoch GodongwanaFoto: Argief

“Dit is ’n groot toets vir pres. Ramaphosa se leierskap.

“Hy gaan nie slaag met sy eenheidsprojek as hy aanhou om mense soos dié (die Zuma-faksie) aan boord te bring nie.

“Hy moet die moed hê om sy presidensiële magte te gebruik en sonder dié faksie optree,” sê Mbete.

Sy sê dit is opmerklik dat so ’n twis in die openbaar gevoer word – twee dae ná die NUK-vergadering. “Die ANC is altyd gou om te sê hy praat nie uit die huis uit nie.”

Mboweni het Woensdagoggend by die bekendstelling van nuwe gedenkmunte op Konstitusieheuwel in Johannesburg gesê daar is nie sprake daarvan dat die mandaat van die Reserwebank verander gaan word nie. Die mandaat word deur die Grondwet beskerm.

“Ek weet nie wat die probleem is (wat mense) met die mandaat het nie,” sê Mboweni.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het in sy voordrag op dieselfde geleentheid, waar ’n reeks gedenkmunte wat 25 jaar van demokrasie gedenk bekend gestel is, ook herhaaldelik gesê die Reserwebank se mandaat word deur die Grondwet beskerm.

Godongwana het Dinsdagaand reeds in ’n verklaring ontken die ANC het besluit om die bank se mandaat uit te brei.

Pres. Cyril Ramaphosa

Prof. Jannie Rossouw, hoof van Wits se Skool vir Ekonomiese en Sakewetenskappe, waarsku die jongste twis herinner aan die 1980’s toe die Reserwebank ook nie ’n duidelike mandaat gehad het nie. In dié tyd het inflasie tot so hoog as 15% per jaar geklim en selfs in ’n stadium tot bo 20% gestyg.

As die ANC die Reserwebank in dié rigting stuur, sal Suid-Afrika terug wees op die pad van hoë inflasie, en sal dit nie lei tot ’n inklusiewe ekonomie wat werk skep nie, sê hy.

Die politieke ontleder Theo Venter van die Noordwes-Universiteit se sakeskool in Potchefstroom, sê die moontlike verandering van die Reserwebank se mandaat is 18 maande gelede al op die ANC se nasionale kongres by Nasrec in Johannesburg bespreek, maar geen besluit is toe daaroor geneem nie.

“Wat nou duidelik is, is dat pres. Ramaphosa in beheer is van die uitvoerende gesag (sy kabinet), maar nie oor die gesprekke wat binne die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) plaasvind nie.”

Die gebeure moet ook gesien word teen die agtergrond van die debat oor “witmonopoliekapitaal” en die druk van die EFF oor die Reserwebank. Die EFF wil hê die Reserwebank moet genasionaliseer word.

“Wat ook duidelik is, is dat iets besig is om binne die ANC te manifesteer. Daar is een groep wat nader aan die EFF wil beweeg om hulle so te neutraliseer, terwyl ’n ander groep niks van die EFF wil weet nie, en dit ook sê,” sê Venter.

“Die ekonome met wie ek gepraat het, is in sak en as oor Magashule se uitlating.” – Sarel van der Walt, Elvira Wood en Francois Williams

Meer oor:  Reserwebank  |  Tito Mboweni  |  Ace Magashule  |  Cyril Ramaphosa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.