Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Reserwebank ‘verras’ mark nog met besluite
Lesetja Kganyago, president van Suid-Afrikaanse Reserwebank.

Sentrale banke in ontluikende lande is meer geneig om beleggers met onverwagte besluite oor monetêre beleid te verras as hul eweknieë in ontwikkelde lande, volgens ’n studie deur Bloomberg Economics.

Ondanks die Reserwebank se deursigtigheid oor hoe hy sy besluite neem, sluit Bloomberg Suid-Afrika steeds in as een van die lande waar betreklik baie rentekoersverrassings plaasvind.

Die studie kyk na besluite wat sedert 2010 in die G20-lande geneem is en hoe gereeld dit afwyk van die mediaanverwagting van ekonome wat Bloomberg gepeil het.

Volgens die studie is die Federale Reserweraad (Fed) van die VSA die voorspelbaarste sentrale bank ter wêreld.

Die Volksbank van China is die sentrale bank wat die onvoorspelbaarste is.

“Die deursigtigheidsrevolusie in sentrale bankwese het verrassings deur die Fed, Europese Sentrale Bank en Bank van Engeland byna heeltemal uitgewis,” sê Tom Orlik en die ander ekonome wat die studie gedoen het.

“In ontluikende lande is dit egter ’n ander saak, met sentrale banke wat hul vermoë om te verras, behou.”

Sedert 2010 was minder as 1% van die besluite deur die Fed teen die markverwagting in.

Daarteenoor het die sentrale bank van China in meer as 32% van die kere besluite geneem wat die mark onkant gevang het.

Die Reserwebank verras met nagenoeg 17% van besluite, wat die bank sewende uit 15 lande of gebiede op die lys plaas, met China as onvoorspelbaarste op nr. 1 en die VSA as voorspelbaarste op nr. 15.

Die studie het ook die deursigtigheid van sentrale banke aan vyf kriteria gemeet:

  • Word beleidsvergaderings volgens ’n skedule gehou?
  • Word die notules van die vergadering gepubliseer?
  • Word ’n nuuskonferensie ná die vergadering gehou?
  • Is daar vertroulike inligtingsessies vir joernaliste?
  • Wat word in toesprake deur beleidmakers gesê?

Volgens Netwerk24 se raming sou die Reserwebank drie uit vyf vir deursigtigheid kon verdien.

Daniel Mminele, een van die drie adjunkpresidente van die Suid-Afrikaanse Reserwebank.

Die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee hou geskeduleerde tweemaandeliks vergaderings, waarvan die datums meer as ’n jaar vooruit gepubliseer word en hou ’n nuusvergadering ná elkeen. Hy publiseer van die data waarop die besluit gegrond is, maar nie ’n notule nie.

Die bank hou twee keer per jaar landwyd monetêrebeleidsforums waarin hy sy besluite en proses verduidelik, en reik ook elke kwartaal ’n bulletin uit. Daarby hou Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, en sy adjunkte, onder meer Daniel Mminele en Francois Groep, gereeld toesprake, wat gepubliseer word en in besonderhede die Reserwebank se siening van monetêre en ekonomiese sake uiteensit.

Die Reserwebank het in Januarie vanjaar ’n belangrike tree vorentoe met deursigtigheid gegee toe hy begin het om sy siening van die rentekoerspad oor die volgende twee jaar te publiseer.

Aan die ondeursigtigste kant hou die Volksbank van China geen geskeduleerde vergaderings nie.

China het dié week juis verras deur die vereiste kapitaalreserwe van banke te verlaag, wat effektemarkte laat loop het. In Augustus 2015 het die Volksbank onverwags die waarde van die yuan – wat vasgepen word – verlaag. Dit het skokgolwe deur wêreldmarkte gestuur.

Saoedi-Arabië word ook as een van die ondeursigtigste sentrale banke beskou.

Bloomberg wys daarop dat banke deursigtig kan wees, maar steeds kan verras met besluite. Die Bank van Japan voldoen byvoorbeeld aan al vyf kriteria vir deursigtigheid, maar verras steeds die mark gereeld.

Hier is die ranglys van sentrale banke volgens die voorspelbaarheid van hul besluite. China is die onvoorspelbaarste.

  1. China
  2. Rusland
  3. Indië
  4. Brasilië
  5. Indonesië
  6. Turkye
  7. Suid-Afrika
  8. Suid-Korea
  9. Australië
  10. Japan
  11. Mexiko
  12. Eurogebied
  13. Kanada
  14. Brittanje
  15. VSA
Meer oor:  Lesetja Kganyago  |  Daniel Mminele  |  Reserwebank  |  Banke  |  Monetêre Beleid  |  Rentekoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.