Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Reserwebank vrees die ‘Groot K’

Die Reserwebank is bang vir die Groot K – en daarmee word nie kanker bedoel nie.

Die Reserwebank se kantoor in Pretoria.

K-vormige ekonomiese herstel is vir die sentrale bank ’n groot risiko in die lig daarvan dat die primêre sektor van die ekonomie (landbou en mynbou) vinniger herstel van die Covid-19-pandemie as die sekondêre sektor (vervaardiging en konstruksie) of die tersiêre sektor (onder meer dienste, vervoer en handel).

’n K-vormige herstel is wanneer die ekonomie ná ’n resessie oneweredig herstel, met sekere sektore of streke wat aanhou inkrimp terwyl ander skerp groei. Dit beteken die ekonomie word wesentlik verander.

Hoewel ’n K-vormige herstel ook kan dui op strukturele veranderinge wat positief kan wees, soos ’n verskuiwing na nuwe tegnologie, kan dit ongelykheid vererger of kolle van werkloosheid skep wat moeilik is om op te los.

Volgens die Reserwebank se kwartaallikse oorsig oor monetêre beleid, wat op 14 April gepubliseer is, is die spook van K-vormige herstel reeds aan die verrys.

k

Landbou is nou sterker as wat dit voor die Covid-19-pandemie se aanvang was, “ondersteun deur gunstige reënvaltoestande wat tot rekord-mielie-oeste gelei het”.

Mynbou is ook amper terug op vlakke van voor die pandemie, gedryf deur sterk uitvoer en rekordhoë pryse vir hulpbronne soos platinum, palladium en ystererts.

“Die sekondêre sektor moet egter nog ten volle herstel, met konstruksie die verste agter. Herstel in vervaardiging is onder meer getemper deur idiosinkratiese terugslae in die petroleum-subsektor en ’n swak vraag na nie-duursame goedere.”

Die tersiêre sektor is ook nog nie terug by 2019-vlakke nie. Vervoer en handel word albei teruggehou omdat toerisme nie herstel nie in die lig van die voortslepende pandemie. Handel sluit hotelle en restaurante in.

Die Reserwebank verwag, soos ekonome in die private sektor, dat die ekonomie as geheel eers weer in 2023 die produksievlakke sal haal van 2019. Onder die teenwinde wat die sentrale bank identifiseer, is beurtkrag.

Die bank verwag nou ekonomiese groei van 3,8% vir die volle 2021, gevolg deur 2,4% in 2022 en 2,5% in 2023. Daar is egter enorme onsekerheid in die voorspelling weens die voortslepende pandemie.

Vertragings met die entstofprogram en strenger inperkings sal groei terughou.

Aan die vraagkant van die ekonomie wys die Reserwebank daarop dat huishoudings se besteding in die tweede helfte van 2020 goed herstel het, deels danksy laer rentekoerse en ’n opgekropte vraag ná die streng inperking.

Krediet wat aan huishoudings verskaf is, het teen Desember die 2019-vlak oorskry, veral danksy ’n rekordgetal huislenings wat in die laaste ses maande van 2020 toegeken is.

Werkverliese en laer stygings in lone en salarisse gaan huishoudelike besteding vanjaar gedemp hou. Volgens Statistieke Suid-Afrika is nagenoeg 1,4 miljoen poste in 2020 afgeskryf.

Aan die positiewe kant herstel die wêreldekonomie vinniger as verwag, selfs ondanks die derde vlaag wat in baie ontwikkelde lande heers.

Die wêreldekonomie het waarskynlik in 2020 teen 3,3% ingekrimp (finale syfers is nog nie uitgereik nie) en die Internasionale Monetêre Fonds verwag groei van 6,5% vir 2021.

“In die algemeen sal sterker wêreldwye uitkomste vinniger herstel in die binnelandse ekonomie ondersteun.”

Die Reserwebank raam dat wêreldgroei, en gepaardgaande groei in uitvoer, Suid-Afrika se ekonomie met ongeveer ’n halwe persentasiepunt sal lig.

I
Rentekoers

Die Reserwebank herhaal dat sy projeksiemodel daarop dui dat die rentekoers vanjaar twee keer verhoog kan word. Dis as die bank se verwagtinge oor inflasie realiseer. Die eerste verhoging word in Mei voorspel en die tweede in November.

nflasie

Die Reserwebank sê inflasie bly goed onder beheer. Dit was in Februarie 2,9%, dus onder die teikenband van 3% tot 6%, maar die sentrale bank verwag dit gaan weens die styging in kospryse wêreldwyd en duurder plaaslike brandstof geleidelik styg.

As inflasie laag bly, sal dit help om rentekoerse in toom te hou.

Die middelpunt van die teikenband, 4,5%, gaan in die tweede kwartaal verbygesteek word, waarna dit weer gaan terugsak.

Die Reserwebank klop homself op die skouer dat hy inflasieverwagtinge sedert 2017 getemper het deur te beklemtoon dat hy mik vir 4,5%. Met die breë band het dit nader en selfs verby 6% beweeg.

Die klem op 4,5% het verwagtinge beter geanker, meen die sentrale bank.

Hy wys egter daarop dat nie almal hul verwagtinge laer anker nie – ’n duidelike stekie na veral vakbonde, wat in loononderhandelinge verhogings van ver bo die inflasiekoers eis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.