Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Reserwebank weier om staat só te finansier
Die Reserwebank in Pretoria.

Die Reserwebank het amptelik gesê hy sal nie die staat help om sy weghol-begrotingstekort te finansier nie.

Die opmerking kom terwyl die ANC tans debatteer hoe die sentrale bank ingespan kan word om infrastruktuur en ontwikkeling te finansier.

“Ons dink nie dis verstandig om die regering regstreeks te finansier nie,” het Kuben Naidoo, adjunkpresident van die Reserwebank, Dinsdag op ’n konferensie met die batebestuursfirma Ninety One (tot onlangs Investec Batebestuur) gesê.

“Dit sou die risiko vir inflasie vermeerder en die lyn tussen ’n onafhanklike sentrale bank en amptelik verkose amptenare vervaag. As ons die regering regstreeks sou finansier, sou daar geensins enige druk op die regering wees om hul uitgawes te bestuur nie.”

Die idee van monetêre finansiering – waar die sentrale bank staatseffekte direk by die regering koop – is deur Willem Buiter, voormalige beleidmaker van die Bank van Engeland en hoofekonoom van Citigroup, as ’n moontlike oplossing uitgewys vir ontwikkelde ekonomieë wat enorme hoeveelhede geld bestee om Covid-19 te beveg. Maar dit, sê Naidoo, sou die rol van die sentrale bank verwyder om te verseker dat die regering gedissiplineerd in sy besteding bly. Dit kan beteken dat die “hele stelsel in duie stort”.

Tito Mboweni, minister van finansies, wat al geskat het dat die begrotingstekort tot ’n enorme 10% van bruto binnelandse produk (BBP) gaan styg, het Dinsdag getwiet dat hy die onafhanklikheid van die Reserwebank ondersteun.

Dit kom nadat Enoch Godongwana, hoof van ekonomiese transformasie by die ANC, voorgestel het die Reserwebank moet help om ontwikkeling aan te spoor deur die skepping van ’n R500 miljard-fonds.

David Masondo, adjunkminister van finansies, het op sy beurt gesê hy sou die regstreekse aankope van staatskuld deur die Reserwebank ondersteun – ’n praktyk wat dikwels as kwantitatiewe verruiming bekend staan.

Die sentrale bank het in Maart wel begin om staatseffekte op die sekondêre mark op te koop om banke te ondersteun terwyl die Covid-19-pandemie markte onstuimig gemaak het. Die Reserwebank hou egter vol dat die doel van sy ingryping was om die “wanfunksionering” van die markte te help stabiliseer, eerder as ’n poging tot kwantitatiewe verruiming.

“Daar is ’n beperking op die aankope van sentrale banke, veral as jy ’n ontluikende mark is,” het Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, gesê op ’n aanlyn konferensie wat deur die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel in Londen gereël is.

Lande soos die VSA, Brittanje en Japan kan met kwantitatiewe verruiming begin “met die wete dat hul geldeenhede reserwegeldeenhede is – omdat dit reserwe-geldeenhede is, sal mense aanhou om dit te besit”.

Die sentrale bank het sy belang in staatseffekte in April meer as verdubbel tot R20,64 miljard, wat die leenkoste in die plaaslike effektemark help verlaag het.

Hy het ook sy repokoers al verskeie kere verlaag, altesame met 2,75 persentasiepunte, en dit vir banke makliker gemaak om nog lenings beskikbaar te stel. Die Reserwebank rugsteun ook R200 miljard se lenings aan sakeondernemings as deel van die regering se hulppakket van R500 miljard.

Die ekonomie word tans deur waarskynlik die grootste inkrimping in vier dekades weens Covid-19 en die gepaardgaande staat van inperking in die gesig gestaar.

Desondanks beskuldig kritici van die Reserwebank hom daarvan dat hy nie genoeg gedoen het om die ekonomie te ondersteun nie en sommige ANC-lede vra nou al jare lank dat hy genasionaliseer word.

Kganyago het in die verlede gewaarsku dat nasionalisering uitgerek en duur sou wees en as ’n “Trojaanse perd” gebruik sou kon word om die debat oor die rol van die instelling te heropen.

Naido sê die sentrale bank het van dié debat “weggestap”. In plaas daarvan sal hy daarop fokus om sy mandaat uit te voer om prysstabiliteit te handhaaf.

Nog ’n beleid van die ANC, naamlik om pensioenfondse en batebestuurders te dwing om in staatseffekte te belê, sogenaamde voorgeskrewe bates, vind ook geen aanklank by Naidoo nie.

Naidoo is ook uitvoerende hoof van die Omsigtigheidsowerheid, die liggaam wat oor banke en lewensversekeraars toesig hou.

“Voorgeskrewe bates werk nie,” sê Naidoo – en voeg by dat dit sy persoonlike siening is en nie dié van die sentrale bank nie.

“As jy iemand dwing om iets te koop, sal hulle dit nie koop nie. Hulle sal elke manier vind om dit nie te koop nie.” – Bloomberg

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Begrotingstekort  |  Ekonomie  |  Maatskappye  |  Bankbedryf  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.