Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Resessie: DA se plan ’n goeie begin, maar...
Die ekonomie het in die laaste kwartaal van 2016 en in die eerste kwartaal van 2017 op ’n kwartaalgrondslag gekrimp, wat die land in ’n tegniese resessie plaas. Foto: iStock

Die DA se sewepuntplan om Suid-Afrika se ekonomie weer aan die groei te kry, “is ’n goeie begin, maar dit skiet steeds te kort”.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economist.com, Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group, en Rian le Roux van Old Mutual en ook Sake se Ekonoom van die jaar vir 2017, sê in beginsel stem hulle met al die punte saam.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het Maandag dié party se ekonomiese plan in sy kantore in Bruma, Johannesburg, uiteengesit.

Hier is wat die DA voorstel, en die ekonome se reaksie daarop:

1. Raak ontslae van roekelose ekonomiese beleid soos die voorstelle om die Reserwebank te nasionaliseer en grond sonder vergoeding te onteien.

Schüssler en Roodt meen dis ’n goeie voorstel. “Dit gaan in elk geval net geld kos om die Reserwebank te nasionaliseer en dit is onnodig,” sê Schüssler.

Hy sê ook die Grondwet maak reeds voldoende voorsiening vir grondonteiening.

2. Kondig ’n program aan om staatsondernemings te privatiseer. Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) moet ten minste gedeeltelik geprivatiseer word en Eskom moet in afsonderlike afdelings verdeel word.

Schüssler en Roodt meen die verdeling van Eskom maak sin. Roodt meen dit kan in drie dele opgedeel word – opwekking, transmissie en kleinhandel. “Die afdelings vir opwekking en kleinhandel kan geprivatiseer word, maar transmissie moet in staatsbesit bly.”

Roodt en Schüssler meen die SAL kan nie geprivatiseer word nie omdat sy skuldlas te groot is. “Maak die SAL maar net toe,” sê Roodt.

Le Roux meen dit klink teoreties na ’n goeie plan, maar hy bevraagteken of dit prakties uitvoerbaar is.

3. Eskom se monopolie moet gebreek word. Mense moet toegelaat word om krag regstreeks by onafhanklike kragprodusente te koop.

Die ekonome stem saam met hierdie voorstel.

4. Skep ’n fiskale begrotingspakket om huidige uitgawes te besnoei en nasionale skuld op 50% van die bruto binnelandse produk (BBP) te stabiliseer.

“Dit lyk nie of die DA die ruggraat het om te sê wat regtig moet gebeur nie,” sê Roodt. “Raak ontslae van ’n klomp staatsamptenare en betaal die res minder.”

Le Roux meen ook die DA moet meer spesifiek wees oor presies waar hy meen die staat kan uitgawes besnoei.

“Waar moet besnoei word, gegewe dat iets soos twee-derdes van staatsbesteding bestaan uit salarisse, rente op staatskuld en maatskaplike toelaes?” vra hy.

5. Verklein die kabinet tot net 15 departemente.

Al die ekonome stem saam die kabinet moet kleiner wees. Roodt meen dit is moontlik om dit tot net ses departemente te besnoei.

6. Maatskappye met minder as 250 werknemers moet vrygestel word van beperkende arbeidswetgewing. Dit sluit nie basiese voorwaardes van indiensneming in nie.

Schüssler is opgewonde oor dié voorstel. Hy sê daar kan egter veel meer gedoen word.

“Daar moet gekyk word na die belastingstruktuur vir kleinsakeondernemings,” sê hy en stel voor dit geld vir ondernemings met ’n jaarlikse omset van tot R200 miljoen.

“Stel klein maatskappye vry van vereistes oor regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging,” sê hy.

7. Alle uitstaande fakture wat die nasionale en provinsiale regerings aan kleinsakeondernemings skuld, moet onmiddellik betaal word.

Roodt meen dit moet ook groot ondernemings geld.

“Ek weet van verskeie groot ondernemings wat onder geweldige druk is omdat die staat hulle nie betaal nie.”

Le Roux sê wat hy graag in die DA se plan sou wou sien, is optrede teen munisipaliteite en nasionale en provinsiale departemente wat onderpresteer, regstappe teen korrupte amptenare of diegene wat strafregtelik by staatskaping betrek word en beleidsekerheid so gou moontlik, spesifiek ten opsigte van die Mynbouhandves.

“Sommige elemente van die DA se voorstelle is prakties uitvoerbaar, maar die meeste daarvan sal in die praktyk baie sterk teenkanting uit politieke geledere, en veral van vakbonde, kry.

Hoe langer onsekerheid en swak groei voortduur, hoe groter die risiko dat die situasie gaan versleg eerder as verbeter.
Rian le Roux

“Dit sluit in ’n ommekeer in die ANC se steun vir die verandering aan die Grondwet, die voorstelle ten opsigte van die SAL en Eskom en die voorgestelde fiskale besnoeiingsmaatreëls.”

Le Roux meen die ekonomie se grootste struikelblok is die gebrek aan vertroue.

“Hoe langer onsekerheid en swak groei voortduur, hoe groter die risiko dat die situasie gaan versleg eerder as verbeter.

“Die risiko is dat volgehoue swak groei nie net maatskaplike druk verder gaan laat toeneem nie, maar die fiskale situasie sal verder onder druk kom en dan staar die werklike risiko ons in die gesig dat ons ons laaste beleggingsgradering kan verloor, wat die rand kan knak, selfs van die huidige swak vlakke af.

“Daar is nog agt maande voor die verkiesing oor en ek dink ons moet verwag dat die politieke geraas en onsekerheid heelwat gaan toeneem, met baie radikale uitsprake van veral die EFF se kant. Dit sal nie goed wees vir vertroue en ’n sterker ekonomie nie. Maak maar die sitplekgordels deeglik vas!”

da

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.