Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Resessie dalk afgeweer danksy verbruikers

Die land se lankmoedige verbruikers het in Mei met hul rande en sente weer die ekonomie se wiele geolie.

ekonomie
Verbruikers se besteding in die tweede kwartaal was dalk genoeg om te keer dat die land ’n tegniese resessie gaan beleef. Foto: Getty Images

Hul besteding was dalk net-net genoeg om te keer dat die land vir die tweede jaar in ’n ry ’n tegniese resessie (twee kwartale van BBP-inkrimpings) beleef.

BankservAfrica het Woensdag sy jongste indeks van ekonomiese transaksies (Beti) uitgereik.

Die indeks het volgens elke maatstaf in Mei gegroei.

Die Beti meet alle kontantonttrekkings, geldoordragte, debietorders en ander maniere waarop geld in die land heen en weer geskuif word. Dis volgens Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za, een van die breedste aanwysers van werklike ekonomiese aktiwiteit.

Op ’n maandgrondslag het die Beti ’n opflikkering van 0,1% gehad teenoor April, op ’n kwartaalgrondslag was hy 1,1% hoër en op ’n jaargrondslag het die indeks met 2,4% versterk.

Dit is die tweede opeenvolgende maand wat die indeks van maand tot maand groei. Volgens Schüssler dui dit dus op ekonomiese herstel in die tweede kwartaal teenoor die “ramp” wat die eerste kwartaal was. Die ekonomie het in die eerste kwartaal met 3,2% ingekrimp.

Schüssler sê April se groeisyfer (maandgroei van 1,6%) was eintlik hoofsaaklik hoog weens ’n “opvang-effek” teenoor die droewige negatiewe tendens van die hele eerste kwartaal.

“Natuurlik was ’n deel van April se syfer net ‘opvang’ gewees, en nie rêrig groei nie,” sê Schüssler.

In vergelyking met dié effek is Meimaand se groei dus ’n ietwat kleiner.

Schüssler sê dit bly egter ’n goeie verwikkeling en beteken die ekonomie is darem weer aan die beweeg, al is dit baie stadig.

Aantal transaksies

Luidens BankservAfrica se syfers het die totale aantal transaksies vir Mei teenoor April met 1,7% gedaal. Op ’n jaargrondslag is dié syfer wel nog 1,2% hoër, maar sedert Januarie 2018 was daar nog net een ander maand waar dié syfer laer was.

“Die gestandaardiseerde waarde van transaksies was (in Mei) R885,8 miljard, wat die gemiddelde waarde van transaksies ongeveer 2,2% hoër as ’n jaar gelede gemaak het,” sê Shergeran Naidoo, hoof van BankservAfrica se belanghebbersbetrokkenheid.

“Dié waarde is laer as inflasie en dui daarop dat rolspelers in die private sektor steeds onder druk is.”

Uiteindelik kom dit neer op verbruikers wat minder aankope doen vir meer waarde op ’n slag, wat ’n aanduiding kan wees van uiterse versigtigheid met betrekking tot hul geld.

Die verbruiker – die “historiese kampioen van ons ekonomiese herstel” – is dus erg onder druk, maar die resessie is hoogs waarskynlik darem afgeweer, sê BankservAfrica.

Meer oor:  Bankservafrica  |  Mike Schüssler  |  Resessie  |  Beti
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.